RIVERSDAL NUUS - Die Evangeliese Lutherse kerkgebou, geleë in Van den Bergstraat, was Woensdag 31 Oktober 110 jaar oud.
Die gemeente wat op 15 Mei 1868 deur sendeling Daniël Heese in Solomonstraat begin is, het geweldig in sieletal gegroei. Op 10 Mei 1905 sterf Heese. Sy opvolger, sendeling Carl Albert Alexander Muller bearbei die gemeente, asook lidmate in Kaapstad.
Die ou sendingkerkie, vandag in gebruik deur die Ou Apostoliese kerk, raak te klein en word in 1907 besluit om 'n nuwe, groter kerk te bou. Muller word na Kaapstad verplaas en word hy deur sendeling Johann Gottlob Grosskopf opgevolg.
Riversdal word dan ook die amptelike tuiste van die superintendent van die Berlynse Sending.
In Oktober 1907, tydens 'n munisipale raadsitting word die bouplanne goedgekeur. Die argitek was mnr. C Weidner. Die hoeksteenlegging vind op 11 Desember 1907 plaas deur burgemeester Dirk Versfeld, plaaslike prokureur. Die diens word deur sendeling Grosskopf waargeneem. Tydens die geleentheid word 'n kopie van die plaaslike koerant, Echo Pilgram, asook twee dokumente begrawe. Versfeld word met 'n pragtig gegraveerde versilwerde troffel toegerus.
Die koste waarvoor begroot was, is £2 600 en toe besef is dat geld gaan ontbreek om die projek te voltooi, hou die gemeente 'n basaar om die kerkkoffers te versterk.
Versfeld skenk die horlosie en die klok vir die toring, wat deur Korfhage & Sons van Duitsland vervaardig is. 'n Plaaslike juwelier en sakeman, WA Kuhn was vir die oprigting van die klok verantwoordelik. Die kerk het ook met 25 gaslampe gespog. Die orrel is deur mnr. Luyt van Kaapstad herbou.
Tydens die afronding van die bouwerk is die kerkraad deur mnr. Forrest van die firma Kallenbach & Kennedy van Johannesburg bygestaan, wat verantwoordelik was vir die bou van die nuwe NG Moederkerk in 1908.
Die eerste diens in die kerk word op Saterdag 31Oktober 1908 om 15:00 gehou. Riversdal-gemeente was die gasheer tydens die sinodesitting wat plaasgevind het vanaf 28 Oktober tot 1 November 1908. Die totale oprigtingskoste was £2 800.
Gemeentekinders wat tot die bediening toegetree het, is David Groenewald, Chris H. Hendricks, Johannes J. Melando, Elizabeth R. Adams (nee Faroa), Henry Steneberg, Avon A.A. Faroa en Ferdinand T. Groenewald. Patrick Sambo was vir twee jaar 'n uitruilstudent wat die Sweedse gemeente besoek het. Na 110 jaar is die gebou nog struktureel stewig en is dit in Mei vanjaar geverf. Die gemeenteleraar is past. Jacques Grispe. Vandag kyk die gemeente met dankbaarheid terug en getuig hulle: 'Hoe lieflik is U woning, o Heer.'
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'