STILBAAI NUUS - Kreatiewe tieners van regoor Hessequa word genooi om hul liefde vir die natuur deur kuns uit te beeld tydens die Hessequa Inheems Kunstefees wat op 28 en 29 Augustus in die Riversdal-burgersentrum plaasvind.
Die fees is oop vir alle jongmense tussen 13 en 19 jaar oud en bied deelnemers die geleentheid om hul kunswerke aan die publiek ten toon te stel. Geselekteerde kunswerke kan boonop op die Gouritz-groepsbiosfeerreservaat en Hessequa se promosiemateriaal verskyn.
Inskrywings is gratis en deelnemers kan tot drie kunswerke indien. Altesaam 35 kontantpryse ter waarde van R20 000 is op die spel.
Vanjaar se temas fokus op die unieke inheemse biodiversiteit van Hessequa. Die vier kategorieë is Klein, vreemd en skouspelagtig, wat reptiele, fungi en ander versteekte spesies uitbeeld; Skaars en merkwaardig, met die fokus op bedreigde en seldsame plante en diere; Waterwêrelde, wat riviere, die see en rotspoele verken; en Wilde verhoudings, waar deelnemers die verbintenis tussen plante, diere, water en mense kan uitbeeld.
Inskrywingsvorms is beskikbaar by alle Hessequa-biblioteke. Voltooide kunswerke moet teen 10 Augustus by enige plaaslike Hessequa-biblioteek ingehandig word.
Die kunstefees bied jong kunstenaars nie net die geleentheid om hul talent te wys nie, maar ook om bewusmaking van Hessequa se besondere natuurlike erfenis te bevorder.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’