ALBERTINIA NUUS - Monique Rockman 'n plaaslike aktrise van Albertinia, is nou in die rolprent Nommer 37 wat Vrydag 1 Junie vrygestel is, te sien.
"Ek het van jongs af films meer intens gekyk. Baie meer as wat 'n klein dogtertjie moet. Ek en my maatjies het by die huis toneelgespeel waar ek die regisseur van ons eie klein toneeltjies was," het sy tydens 'n telefoniese onderhoud met Suid-Kaap Forum gesê.
Hierdie is die eerste rolprent waarin sy 'n hoofrol vertolk en wat die silwerdoek gehaal het.
Tussen as en hoop is slegs op DVD uitgebring en Sirkel van noodlot word in September vrygestel.
Sy het drama begin studeer en wou graag verder aan Tshwane Universiteit vir tegnologie studeer.
"My ouers kon nie bekostig om my so ver van die huis af verder te laat studeer nie. Een oudisie na die ander was my voorland en ek moes baie hard werk en baie teleurstellings verwerk. Dit is deel van die daaglikse lewe en mens moet gemaklik met verwerping raak."
Dit was vir haar moeilik om die rol van Pam te vertolk. Sy vertel: "Baie dinge van my verlede wat ek onder die mat ingevee het, moes ek weer uitkrap om daardie rou emosie te kan uitbeeld. Dit is vir my baie belangrik om my beste te gee. Ek respekteer die kuns wat my werk behels, sowel as die mense wat kom kyk."
Monique is baie trots op wat sy bereik het en omdat sy haar droom kan uitleef.
Sy werk hard omdat sy graag wil hê haar seuntjie moet eendag na 'n goeie skool toe gaan.
"Hoewel ek baie bly is dat ek my droom kan uitleef is ek baie bang vir al die dinge wat daarmee saamgaan."
Tydens die verfilming het sy baie geleer terwyl sy haar eie waagkunsies van haar karakter kon doen. Sy het selfs binne 15 minute geleer om 'n motor te bestuur.
Albertinia sal binnekort dié mooi en talentvolle aktrise tuis kan verwelkom. "Sodra ek kan wil ek huis toe kom. Daar is 'n gevoel van rustigheid en veiligheid. Tans hou die werk my baie besig, maar dit is in my beplanning om te kom kuier."
Monique tydens een van die tonele uit die rolprent. Foto's: Facebook
Nommer 37 is 'n rolprent deur Gambit Films. Dié rolprent is gedurende die week van 9 tot 16 Maart vanjaar op die grootskerm by die SXSW-rolprentfees in Texas bekendgestel.
Dit is een van slegs 44 films, deur debuutfilmmakers, uit 8 160 inskry-wings vanoor die wêreld wat hiervoor gekies is.
Die kortfilm is reeds in 2016 bekroon met 'n SAFTA-toekenning vir beste kortfilm.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'