Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Helen Zille, DA-premier het na haarself op Sondag 20 Januarie tydens haar besoek aan die dorp, as die sakkende son verwys.
Die doel van haar besoek saam met Alan Winde, DA-premierskandidaat was om meer van die DA se verkiesingsveldtog in die Wes-Kaap te vertel.
Sy het volle vertroue in die premierskandidaat en sê dat hy 'n uitmuntende entrepreneur en ordentlike man is."Ek is nou die sakkende son en jy die son wat besig is om op te kom."
Die gemeenskap het haar ook met 'n heerlike ete en samekoms verras. Sy het die NG Kerksaal al dansende binnegekom. Hoewel 'n groter gehoor by die openbare vergadering verwag is, was meeste wat dit bygewoon het positief en gedrewe. Zille het onder andere gesê dat hulle in die DA mekaar se aksies tot verantwoording roep. Hulle doelwit is om vanjaar die party se stemme met 20% te verdiep.
Die mikrofoon is na die gehoor gedraai en sensitiewe sake is aangeraak, waaronder grondonteiening sonder vergoeding en rassisme.
Kyk video's hieronder.
'n Wildsboer het die party vir hul droogtehulp bedank, maar genoem dat die wildbedryf in die Wes-Kaap besig is om te versmoor. "Wanneer ons aansoek vir permitte doen, neem dit so lank om uitgereik te word dat die bokke partymaal vrek. Baie maal word geen permit uitgereik nie," het dié wildboer gesê. Winde se antwoord hierop, is dat die uitreik van permitte na landbou geskuif moet word.
Grant Riddles, uitvoerende burgemeester van die Hessequa-streek is vir sy mooi en skoon dorpe geprys. "Dit is opwindend om te sien dat besighede in dié streek wil belê. Vooruitgang in die gebied se munisipaliteit is duidelik sigbaar veral met projekte soos die sonaangedrewe ontsoutingsprojek," het Zille gesê.
Winde het vertel: "Terwyl ek vanoggend deur Stilbaai en Jongensfontein op my fiets gery het, het ek die gevoel gekry dat ek hier sal kan woon."
Tydens 'n ete in die gemeenskapsaal is Zille vereer vir haar invloedryke werk en fondasie wat sy die afgelope 10 jaar gelê het.
'n Bewoë Zille het gesê: "Ek het nog 'n openbare vergadering verwag waarin mense jou uithaal en hier sê almal vir my dankie. Ek wil ook net vir almal dankie sê wat vir my dankie sê. Baie dankie vir die mooi gebaar."
Sy was nie skaam om drukkies uit te deel nie en het selfs spesiaal opgestaan om Ouma Lena van Melkhoutfontein te ontmoet. Ouma Lena was 'n eregas by die ete.
Meeste sprekers het Winde daaraan herinner dat hy groot skoene het om te vol te staan.
Kyk na die videos op ons webtuiste by www.suidkaapforum.com waar verskeie vrae gevra en beantwoord word.
Lees 'n vorige artikel hier: Helen Zille besoek Stilbaai.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'