Die spesiale materiaalsakke is aan 'n groep vooraf geïdentifiseerde inwoners in Hessequa uitgedeel en sal daar op 'n latere stadium nog Wonderbags uitgedeel word. Hierdie projek, wat deur die departement van omgewingsake gedryf is, is teen einde September afgehandel en met vorige beriggewing is aangedui dat daar meer volledig, met spesifieke verwysing na die toekenningsproses, daaroor berig sal word ten einde deursigtigheid te bevorder. Suid-Kaap FORUM het gaan kers opsteek by me. Marieta van Wyk, koördineerder van die projek.
So het dit gewerk
Van Wyk verduidelik dat die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning van die Wes-Kaap gedurende April vanjaar, 2 732 van hierdie 'Wonderbags' met 'n totale waarde van R400 000 aan Eden distriksmunisipaliteit voorsien het om in die gemeenskappe van Knysna, Bitou, Mosselbaai, Hessequa, Kannaland en Oudtshoorn aan die lae inkomstegroepe te versprei.
Hessequa ontvang 440 'Wonderbags'
Hessequa munisipaliteit het 440 hiervan ontvang. "Gegewe die feit dat daar 'n beperkte aantal van die 'Wonderbags' ontvang is en aan ontvangers van deernishulp in Hessequa uitgedeel moes word, het die uitvoerende burgemeester, rdl. Emor Nel en mnre. Hendrik Visser en Shagon Carelse van die departement van omgewingsake, in samewerking met meneer Vernon Gibbs-Halls van die Eden distriksmunisipaliteit besluit om die 'Wonderbags' op 'n gelukkige trekking-basis aan persone wat einde Maart 2013 vir deernishulp geregistreer is, uit te reik". Volgens Van Wyk was daar in daardie stadium 5 224 persone wat vir deernishulp geregistreer was.
"Eerstens is die 'Wonderbags' op 'n pro-rata basis volgens die aantal persone wat deernishulp ontvang, aan elk van die agt wyke in Hessequa toegeken. Vervolgens is daar per wyk in numeriese volgorde 'n nommer aan elk van dié persone toegeken. 'n Gelyke stel nommers is toe per wyk, sonder name, daargestel wat gebruik is deur munisipale amptenare wat in die hoofgebou in Riversdal werksaam is om op 'n gelukkige trekking-basis, volgens die aantal 'Wonderbags' wat per wyk beskikbaar is, die trekking te doen".
Van Wyk verduidelik verder dat elke 'Wonderbag' 'n unieke strepieskode het (bar code). "Die gelukkige nommers moes hierna op die 'Wonderbags' aangebring word, waarna die 'Wonderbags' se strepieskode ook teenoor hiérdie gelukkige nommer aangeteken moes word. 'n Volledige naamlys van die ontvangers, tesame met die strepieskodes, is hierna aan mnr. Vernon Gibbs-Halls voorsien".
Volgens Van Wyk is datums bepaal vir die oorhandiging van die 'Wonderbags', wat per brief aan die betrokkenes gekommunikeer is, wat dan ook per hand afgelewer is. Die assistent omgewingsbeampte, mnr. Phillip Hendricks en syself was verantwoordelik vir die uitdeel van die materiaalsakke in die verskillende wyke. "Die ontvangers moes hul identiteitsdokumente toon alvorens hul die 'Wonderbags' kon ontvang. Identiteitsnommers is ook gerekordeer. 'Wonderbags' wat nie in ontvangs geneem is nie, is hertoegeken ná die proses van gelukkige nommers wat deur die amptenare getrek/verskaf is, weer gevolg is". Die ontvangers het groot waardering vir die 'Wonderbags' getoon, veral weens die feit dat daar op elektrisiteit bespaar word, aldus Van Wyk.
Wat is 'n 'Wonderbag'?
Die 'Wonderbag' is ontwikkel met die doel om die sosiale, ekonomiese en omgewings impakte te verlig wat in vandag se globale omstandighede voorkom. Dit is 'n nie-elektriese, warmhoudende 'cooker' wat kos wat tot kookpunt gebring is op 'n stoof of vuur, vir ure nadat dit van die hittebron verwyder is, stadig tot gaar te kook deur die pot binne die sak te sit.
Enige maaltyd van vleisbredies, groentekerries tot eenvoudige rys en sop kan gaargemaak word. Die sak se unieke en slim insuleringseienskappe is juis so ontwerp dat 'n maaltyd sonder addisionele energie, gaargemaak kan word. Buiten dat energie en tyd gespaar word, is dit ook 'n goedkoop manier van kook.
Voordele van die 'Wonderbag'
* Dit kan 'n familie se gasverbruik met tot 30% verminder.
* Dit verminder CO² uitlaatgasse.
* Dit verminder giftige gasse wat asemhalingsprobleme en siektes verminder, veral by kinders.
* Dit verminder ongelukke in die kombuis, aangesien stowe en parafienstowe minder gebruik word.
* Dit verminder die tyd wat spandeer word om 'n maaltyd te kook.
* Dit bespaar water. Wanneer die pot geïnsuleer is in die 'Wonderbag' teen 'n redelik konstante temperatuur, vind minder verdamping plaas en minder water word benodig.
* Dit bespaar kos. Navorsing het bevind dat ongeveer 20% van alle stapelvoedsel in Afrika gebrand word tydens die voorbereidingsproses, omdat dit voorberei word op oop vure. Met die 'Wonderbag' vind geen verbranding van kos plaas nie.
So lyk die 'Wonderbag' van naderby. Inlas: Instruksies hoe om die sak te gebruik om kos te kook.