HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike polisie, onder leiding van ao. Alroy Windvogel en serss. Imorgene Hendricks en Danwill Josephs het saam met verkeersbeampte Danielo Michaels en gemeenskapsaktiviste Evangeline en Vennito van Niekerk met vyf Bangladeshi-winkeleienaars onderhandel om kospakkies te skenk.
Die vyf, onder leiding van Dewan Shofiqul, het na die samesprekings besluit om 40 gesinne met pakkies wat die noodsaaklikste kos bevat, te voorsien.
Volgens Windvogel het hulle op gesinne wat in die twee informele kampe in Hoogstraat woon besluit.
“Baie van hulle is werkloos en sommige moet met ’n karige toelaag oorleef.”
Een van die begunstigdes Jonathan Montague, wat sy regtervoorarm sowat vyf jaar gelede na ’n werksbesering op ’n plaas verloor het, het Shofiqul en sy landgenote bedank. “Ek wil namens ons groep ons hartlike dank uitspreek teenoor, nie net die winkeliers nie, maar ook die polisiebeamptes en ander rolspelers wat die skenkings moontlik gemaak het,” het hy aangedaan gesê.
Shofiqul het beklemtoon dat hulle nie die skenkings doen net om inwoners te lok om by hulle te koop nie, maar dat dit uit die diepte van hul harte kom. “Our Creator commands us through his holy word the Quran to share with the underprivileged.”
Volgens Windvogel het hulle ook skenkings van honde- en katkos vanaf ander inwoners gekry wat hulle in Slangrivier uitgedeel het.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'