HESSEQUA NUUS - In 'n verklaring deur Debbie Schäfer, Wes-Kaapse minister van onderwys, sê sy dat sy bly is gehalte aanwysers in die Wes-Kaap toon 'n verbetering.
Sy noem dat die Wes-Kaap weer die hoogste slaagsyfer in wiskunde behaal het, wat van 73,9% in 2017 tot 76% gestyg het. In fisiese wetenskappe het die provinsie 'n slaagsyfer van 79,5% behaal, 'n toename van 72,0% in 2017.
"Die totale persentasie kandidate wat matriek geslaag het, het van 75,7% in 2009 tot 81,5% in 2018 toegeneem - 'n styging van 5,8%. Ek is veral trots dat die Wes-Kaap 'n toename in die persentasie baccalaureus graad behaal het."
Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het tydens 'n geleentheid in Midrand gesê dat dit verblydend is om te sien dat die matriekslaagsyfer die afgelope agt jaar bo 70% was. 'n Slaagsyfer van 78,2% is bereik met progressie-leerders ingesluit. Die nasionale slaagsyfer met progressieleerders uitgesluit is 79,4%, 'n verbetering van 2,9% teenoor 2017.
Terselfdertyd word met groot kommer kennis geneem van 2018 se amptelike slaagsyfer van 78,2%, omdat dit nie die volledige prentjie van die land se onderwystoestand skets nie.
Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum noem dat 'n verslag van die departement van basiese onderwys aandui dat 1 141 731 leerders in 2007 in graad een in openbare skole was en 29 592 in onafhanklike skole. "Volgens die statistiek wat die minister van basiese onderwys vandag bekendgemaak het, het 'n totaal van slegs 790 843 leerders in 2018 vir die matriekeksamen ingeskryf. Dit beteken dat meer as 30% van 2007 se groep nie eens die matriekeksamen gehaal het nie, wat nog van geslaag het."
Van die 157 000 onderskeidings wat behaal is, het die meeste uit Gauteng, KwaZulu-Natal, Wes-Kaap, Oos-Kaap en Limpopo gekom.
Wes-Kaap verkry 'n nasionale derde plek met 'n slaagsyfer van 81,5%. Gauteng is eerste met 87,9% en die Vrystaat tweede met 87,5%.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'