SWELLENDAM NUUS - Nagenoeg 200 werkers van Southern Oil (Soill) het Vrydagoggend 17 Mei begin staak omdat daar nie aan hul eise van salarisverhogings, langdiens en 13de bonusse toegegee word nie.
Die werkers, almal lede van Agricultural Workers Union of South Africa (BAWUSA), onder leiding van Nosey Pieterse, bekende gemeenskap- en vakbondaktivis, het vanaf 02:00 Vrydagoggend die ingange tot die fabriek afgesper deur rommel en buitebande te strooi en te brand terwyl hulle toi-toi het. Pieterse en van die werkers was intussen in gesprek met die bestuur.
Die plaaslike polisie, asook lede van die Openbare orde polisie-eenheid (Pops) was heeldag teenwoordig om orde te handhaaf.
Volgens Pieterse was hulle tot hierdie aksie verplig omdat die bestuur hulle die afgelope tyd nie aan die werkers se pleidooie gesteur het nie. Die samesprekings is Vrydagmiddag tot Maandag 20 Mei uitgestel, maar dit is nie bekend of 'n ooreenkoms tussen die partye bereik is nie. Die staking het oor die naweek voortgeduur.
Suid-Kaap Forum se korrespondent, Clive Pretorius, het Vrydag verskeie kere telefonies en per e-pos kontak probeer maak om kommentaar te kry by Diana Venter, Southern Oil se menslike hulpbronbestuurder, maar teen spertyd is nog geen terugvoering ontvang nie.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'