HESSEQUA NUUS - Dis winter en honde sonder hokke kry bitter koud. Community Animal Rescue Society (CARS) het 'n plan bedink om tot honde én mense se voordeel te strek.
Gebruik jou vaardighede om 'n hok te bou en te versier en staan so 'n kans om met 'n wegbreeknaweek as eerste prys weg te stap. Die sluitingsdatum vir die kompetisie is Saterdag, 18 Julie.
Die wenner sal tydens 'n pretoggend by 'n gastehuis op Stilbaai aangekondig word wat ook met die opveil van die wenhok gepaard sal gaan. Al die ander inskrywings sal in Melkhoutfontein uitgedeel word.
Die oggend se aktiwiteite begin om 11:00 en sal onder meer tuk-tuk-ritte vir die kinders insluit. Smaaklike eetgoed sal ook beskikbaar wees. Stilbaai-koördineerder Nicole Botha het die versekering gegee dat alle inperkingsregulasies streng nagekom sal word.
Besoek CARS se Facebookblad vir meer inligting, of kontak hoof-koördineerder Sandra Lotz (082 962 1831).
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'