STILBAAI NUUS - Die Suid-Kaap-motorfietsklubs van Helpende Hand het Saterdagoggend 28 Mei, 'n ontbytrit na die dorp onderneem om komberse, warmbaadjies en truie aan weerloses te skenk.
Reeds van vroegoggend het die ysterperde se gebrul aangekondig dat hier iets aan die gang is en teen 11:00 was daar al meer as 60 motorfietse by Stables net buite die dorp saamgetrek.
Van die ondersteuners het met motors opgedaag en daar was maklik 100 geesdriftiges van oor die Suid-Kaap byeen.
Reeds met die ontvangs deur Corrie van der Westhuizen, Wes-Kaap Helpende Hand-motorfietsklubs se president en Marlise Labuschagne, Wes-Kaap assistent-streekorganiseerder het die kameraderie en warmte van elke motorfietsryer getuig dat hulle regtig 'n verskil wil maak.
"Ons is Jesus se hande en voete en Hy gebruik ons om te werk waar daar regtig nood is. Ons fokus dan ook op bejaardes en kinders met hierdie projek," het Van der Westhuizen gesê.
Hy het bygevoeg dat daar geen ander groepering is soos bikers wat so hard werk om ander se nood te verlig nie. Wat dit ook besonders maak, is dat die klubs mekaar se projekte ondersteun.
Volgens Labuschagne het selfs nie-lede haar gekontak en warm items geskenk toe die ontbytrit bekend word. "En heelwat mense het spesiaal goed gaan koop om te skenk. Dit is ongelooflik hoe baie klere uiteindelik tussen die takke opgedeel is om terug te vat na hulle gemeenskappe. Dit is duidelik dat die Here hard in mense se harte werk."
Na 'n heerlike ontbyt het die ryers die omgewing gaan verken en daarna huiswaarts gekeer.
'n Soortgelyke rit word vir 3 September na die Jura-sentrum in George beplan, met die hoofsaaklike doel om volwasse doeke te skenk vir bejaardes met dementia en Alzheimer se siekte. Belangstellendes kan Labuschagne kontak by 071 390 7766.
Lede van Helpende Hand met van die skenkings. Foto: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'