RIVERSDAL NUUS - Liesel Karelse is 'n vrou wie se hande vir niks verkeerd staan nie en graag ander vroue motiveer.
Sy verruil haar digterspen gereeld vir die sweismasjien. Sy was nog nooit afhanklik van enigiemand nie en het selfs terwyl sy getroud was bly werk.
Dit is vir haar belangrik om ander vroue te wys dat hulle ook vir hulself sal kan sorg. "Jy moet jouself leer en nie gaan lê nie. Jy kan bo jou omstandighede uitstyg. Enige vrou wat 'n droom het moet dit uitleef. Doen dit tot die beste van jou vermoë," het Karelse gesê.
Hoewel sy daarvan hou om met haar hande te werk is sy lief daarvoor om gedigte te skryf. Vir twee jaar vanaf 2001 het sy deeltyds 'n prosa- en poësiekursus by Stellenbosch Universiteit voltooi.
Sy vertel: "Ek het reeds op skool daarvan gehou om gedigte te skryf en te lees. Ek kon my daarin uitleef."
Karelse het selfs die geleentheid gehad om vyf van haar gedigte by die Woordfees voor te lees. "Ek hou baie van Elize Parker se werk. Sy is vir my 'n inspirasie. Ek dig tot vandag toe nog. Dit wat ek nou onthou skryf ek neer en sit dit dan later bymekaar. Mense inspireer my. Die wyse waarop hulle praat, dinge doen of selfs die manier waarop iemand loop."
Sekere van haar gedigte is reeds gepubliseer, maar sy sal graag haar eie digbundel wil publiseer.
Terwyl sy die kursus by die universiteit bygewoon het, het sy 'n ekstra inkomste nodig gehad. "Ek het eers iemand begin help om hekke te verf. Later het ek al hoe meer begin kyk hoe die ander sweis en het ek een van die mans gevra om my te leer. Die eienaar van die besigheid het my gevra of ek regtig wil leer sweis en my antwoord was natuurlik ja. Daarna het ek baie geleer en dit baasgeraak. Dit was moeilik aan die begin, maar ek het vasgebyt en vandag kan ek baie dinge self maak."
Sy het al 'n hele paar kunswerke en kersblakers gemaak waarby baie sweiswerk betrokke was. Palissades, kopstukke vir beddens en motors se uitlaatpype, om maar net 'n paar te noem. "Dit is vir my lekker wanneer jy kan terugstaan en na jou eie handewerk kan kyk. Baie mans het al uitgebars van die lag wanneer ek my sweishoed en bril afhaal en hulle sien dit is 'n vrou. Een man het op 'n keer vir my gesê dat hy nie saam met 'n Barbiepop kan werk nie. Al lyk dit nie altyd so nie, ons vroue kán."
Sy hou daarvan dat haar hande steeds moet sag bly en verloor nooit haar vroulikheid nie.
Karelse wil vroue inspireer om in hulself te glo en te vertrou. "Die Here sal jou nooit deur omstandighede sit wat jy nie kan hanteer nie."
*Liezel Karelse of Riversdale not only loves to read and write poetry but survived in 'a mans world' by learning how to weld. She has already made and welded palisades and different artwork including candle holders.
She would like to have her poems published one day. She wants to inspire other women to follow their dream and never give up.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'