STILBAAI NUUS - Dis feestyd in Stilbaai met Vrye Weekblad se tweede boekefees wat vanaf 24 tot 26 Februarie in die Baptiste-kerksaal aangebied word.
Volgens Elna van der Merwe, organiseerder van die boekefees was verlede jaar se fees ten spyte van Covid-19-pandemie so gewild dat Vrye Weekblad besluit het om dit weer in Stilbaai te hou.
Feesgangers kan uitsien na 'n Italiaanse kosdemonstrasie deur die Afrikaanse Italianer en oud-Stilbaaier Reinette Anastagi. Sy skop die fees op Vrydagoggend, 24 Februarie, om 10:00 by die Stilbaai-rolbalklub af.
Vrydagaand gaan Max du Preez, Anneliese Burgess, Anastasia de Vries en Piet Croucamp die moeilike vraag, "Hoe oorleef ons SA se donker uur?" beantwoord. Dit behoort 'n vol saal te trek.
Saterdag 25 Februarie is daar 'n vol program by die Baptiste-kerksaal en halfnege gaan Daniel Hugo met Frederik de Jager en Chanette Paul gesels oor die plek in die "plek" in skryfwerk.
Van die ander skrywers is Lindie Stander, Ivor Swartz, Ingrid Jones, Tannie Betsie, Irma Venter en Cas Wepener. Teen daardie tyd is dit etenstyd en die kosstalletjies by die Baptiste Kerk gaan seker maak dat jy nie die middagsessie honger aanpak nie.
Ná middagete kom Gerda Taljaard en Kirby van der Merwe aan die beurt en die dag word afgesluit met Max du Preez se gesprek met Pieter du Toit en Jacques Pauw.
Die boekefees word afgesluit op Sondag 26 Februarie met 'n 8,2 km-staptog saam met Nico Steenekamp om die mooie Stilbaai te ervaar. Dit begin en eindig by die hawe.
Navrae kan gerig word aan stilboeke@gmail.com
Anastasia De Vries deel 'n oomblik met Juliana Coetzer tydens verlede jaar se fees.
Max Du Preez gesels met Sidney Gilroy en Irma Venter tydens verlede jaar se fees.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'