Update
HEIDELBERG NUUS - 'n Enkelma van drie kinders van Heidelberg, wat sedert 2012 verkeerdelik as gestorwene geklassifiseer is, sukkel nou al vir sewe jaar om van haar "spookstatus" ontslae te raak.
Maria September (57) van Diepkloof se ma het in 2012 gesterf.
September, wat as Max bekend is, noem dat haar en haar ma se twee voorname, Maria Magdalena, presies dieselfde is en dat dit dalk die rede kan wees vir die verwarring by die departement binnelandse sake.
"Ek het eers die fout agtergekom toe ek in 2014 by die stemlokaal wou stem en moes hoor dat ek dood verklaar is. Dit was die begin van my probleme, want van toe af het ek nie meer toegang tot my bankrekening, asook tot my swaarverdiende spaargeld tot op hede nie," het sy verduidelik.
'n Erg gefrustreerde September vertel verder dat sy ook nie 'n nuwe bankrekening kan oopmaak nie, maar dat haar werkgewer darem iets kon reël dat haar salaris in 'n spesiale rekening inbetaal kan word.
Buiten September is daar baie plaaslike inwoners wat soortgelyke probleme het rakende nuwe aansoeke vir hulle identiteitsdokumente en geboortesertifikate, asook trousertifikate en gades se doodsertifikate.
Pieter Esau (71) sukkel sedert Februarie 2019 om 'n duplikaat van sy trousertifikaat te kry. Esau, 'n wewenaar, benodig dit om die verkoop van sy huis in Joe Slovo Park af te handel.
"Ek is al 'n ou man en ek wil graag die genot van my geld hê terwyl ek nog leef, maar soos dit nou aangaan sal ek dit seker nie in my leeftyd sien nie," het hy gesê.
Die departement binnelandse sake in George is reeds verskeie kere vir kommentaar oor dié twee aansoeke genader, maar al terugvoering is dat dit aandag geniet en na 'n hoër vlak van bestuur verwys word.
Vorige artikel: Vrou wat lewe is dood verklaar
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'