Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Die Riversdal Voortrekkerkommando het Vrydag 26 Julie hul 56ste bestaansjaar in egte Vorie-tradisie gevier.
'n Statige vlag- en fakkelseremonie met die klanke van die Volkslied het die nostalgiese aand in die AB Retief-sentrum by NG Kerk Riversdal-Wes ingelui.
Die spesiale verjaarsdag-geleentheid is dié Afrikaanse kultuurvereniging se vierde fondsinsameling in hierdie formaat.
Onder die eregaste was stigterslede John Jackson en sy vrou Susan, asook Magda van Rensburg. Ena Labuschagne en Tekkies Kotze het albei sertifikate vir 35 jaar se liefdesdiens aan die jeug ontvang. Tielman Roos, huidige kommandant, het die leiers voorgestel. Dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, het Sybrand van Dyk as Presidentsverkenner vereer. Dit is die grootste eer wat 'n lid van die jeugorganisasie te beurt kan val en dié matrikulant aan die Hoërskool Langenhoven is 'n ware fakkeldraer.
"Riversdal-kommando, wat in 1963 (her)stig is, is een van ons grootste kommando's en julle verhaal is een van geloof, hoop, liefde en spanwerk," het Langner gesê. "Elke geslag word gekonfronteer met uitdagings waarop antwoorde gevind moet word. Ons land en wêreld lyk nie meer soos 1963 nie.
"Vandag het ons voor groot politieke, finansiële en maatskaplike uitdagings te staan gekom. Ten spyte hiervan is ons steeds Voortrekkers, naamdraers van pioniers, voorposmense en toekomsskeppers. Anderkant die uitdagings sien ons die geleenthede van tegnologie, internasionale netwerke en gemeenskapsgerigtheid.
"Anders as in 1963 werk ons vandag nie meer met die room van die volgende geslag staatsleiers, staatsdiensdirekteure en ministers nie, maar met toekomstige sakeleiers, entrepreneurs, voorsitters van maatskappye, fabriekseienaars, digters en skrywers. Ons is probleemoplossers, baanbrekers, diensbare leiers met soepel denke wat soos ons voorouers kan aanpas om te oorleef. Ons sorg vir ons kinders en rus hulle speel-speel met lewensvaardighede toe. Ons hou steeds koers en glo God regeer." Tussen die ernstige temas wat met elke Voortrekkerhart gepraat het, is daar ook gesmul aan 'n heerlike driegangmaaltyd van boerekos met 'n kinkel, en vrolike boeremusiek is deur Maggie en Wim Filmalter verskaf.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Voortrekkers vier verjaarsdag
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'