HEIDELBERG NUUS - Kinders van Kleine Pikkewyne en Kleine Diamantjies op Heidelberg het onlangs meer oor waterveiligheid van Caville Abrahams, waterveiligheidsinstrukteur van die NSRI geleer.
Abrahams het vir hulle vertel hoe om op 'n veilige manier in en naby water pret te hê.
Om verdrinkings te voorkom, het die nasionale seereddingsinstituut (NSRI) gedurende 2017 ongeveer 750 pienk reddingsboeie landswyd by strande, riviere en damme aangebring om verdrinkings te voorkom.
Die boei kan na 'n drenkeling gegooi word waarop hy na veiligheid kan dryf.
Die borde waaraan die boeie hang, verskaf belangrike inligting soos hoe om dit te gebruik, die noodnommer om te skakel, asook die liggingsnommer wat die NSRI dan in staat stel om te sien waar die spesifieke boei gebruik is.
"Van die boeie het al weggeraak en vra ons die gemeenskap om, indien hulle sien dat iemand dit verwyder, so 'n persoon te vra om dit terug te plaas. Hulle kan dit ook aan die naaste NSRI rapporteer," vra Abrahams.
Wenke om verdrinking te voorkom:
- Swem waar en wanneer lewensredders aan diens is;
- Moenie alkohol gebruik wanneer jy gaan swem nie;
- Moenie alleen swem nie;
- Volwassenes moet altyd oor kinders toesig hou in of naby water;
- Moenie op jou eie 'n reddingspoging aandurf nie. Skreeu om hulp en skakel 112;
- Na jy om hulp geroep het, gooi 'n reddingsboei, of enigiets wat kan dryf na die persoon;
- Volwassenes wat oor kinders toesig hou se aandag moenie afgetrek of hulle selfone gebruik terwyl hulle toesig hou nie.
- Leer hoe om KPR te doen.
Persone wat in 'n gratis waterveiligheidsaanbieding belangstel, kan Abrahams kontak (071 871 9664).
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'