HEIDELBERG NUUS - Die 2 500m² spasie vir grafte in die Heidelberg-Oos begraafplaas is opgebruik en het Hessequa-munisipaliteit besluit om dit te sluit.
Die munisipaliteit het reeds in 2017 Element raadgewende ingenieurs aangestel om 'n ondersoek te loods na die uitbreidingsmoontlikhede vir addisionele begraafplaasspasie in die Heidelberg-omgewing.
Toestemming is in 2018 by die departement omgewingsake verkry om die bestaande begraafplaas met 2 500m² uit te brei. Daarna het die ondersoek na alternatiewe begraafplaasgrond voortgeduur en is goedkeuring vanaf die departement verkry vir die uitbreiding van die Wes-begraafplaas, met ongeveer 2 777 grafte.
'n Openbare deelnameproses is gevolg en alle insette was tydens die ondersoek oorweeg. "Die nuwe begraafplaas-uitbreiding aan die westekant, oorkant die skougronde op die Barrydale-pad sal grafspasie vir 'n periode van ten minste 15 jaar skep," sê die munisipale bestuurder, Johan Jacobs.
Die munisipaliteit is derhalwe verplig om die vol begraafplaas te sluit en na die nuwe begraafplaas-uitbreiding aan die westekant oor te skuif, waar reeds grafte gemaak is.
"Ons vertrou dat Heidelberg se inwoners begrip sal toon vir die vereistes wat die munisipaliteit moet nakom met die sluit van die Oos-begraafplaas en sal saamwerk om die begraafplaas aan die westekant te gebruik," het Jacobs gesê.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'