HESSEQUA NUUS - Boere in die Hessequa-streek is besig om met 'n glimlag voer te baal en na stoorplekke aan te ry. Intussen het reën weer sedert Dinsdagoggend, 17 November op die voer-landerye begin toesak.
Met meer bale wat in die middel van die 2020-oesseisoen as vorige jare landerye vol lê en na stoorplekke aangery word, beloof die reënval en gunstige weersomstandighede dat vee die komende seisoen oorgenoeg voer gaan hê om aan te wei.
Lawrence Schreve, 'n melkboer van die Novo-distrik het Woensdagoggend,18 November gesê hy baal gewoonlik tussen 350 en 420 voerbale per jaar, maar meer as 600 bale is reeds op sy lande sigbaar.
Van die bale word weens die reën netjies toegedraai, om die groen saad te beskerm. "Dit is veral melkboere wat van oor tot oor glimlag en voer moet toedraai en stoor," het Louis van Dyk, bestuurder by die Korentepoort-besproeingsraad gesê. By die Korentepoortdam is reënmeters met 37mm water daarin Woensdag uitgegooi, om vir nog plek te maak terwyl die reën op die streek toegesak het.
Volgens Schreve het die Kristalkloof-afloop die Molen- en Vetteriviere vanuit die Garciapas teen Woensdagoggend vroeg laagwaterbrûe laat oorloop. Teen 08:00 Woensdagoggend is 24mm reën in Novo gemeet.
Mlngisi Mkhwamazi, 'n weer waarnemer by die George-weerkantoor het Woensdagoggend bevestig dat 43.6 reën in Stilbaai gemeet is, met 14,4mm wat in sentraal Riversdal geval het. Tot en met middernag Dinsdag en Woensdagnag is 14,4mm reën vir Heidelberg gemeet. Die weerburo het nog nie die syfers vir reënval in die streek met ter perse gaan beskikbaar gehad nie.
Die Korentepoortdam was Woensdag-oggend 96% vol, maar volgens Van Dyk sou die dam teen Woensdagaand sy walle oorstroom.
Water vloei oor laagwaterbrûe in die Novo-distrik.
• Nog 'n berig oor oestyd hier.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'