Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEOS - "Alles het afgebrand en alles is verwoes. Ek het niks oor nie," huil Johanna Bell nadat die informele woonstruktuur op haar ma se erf in Vetterivierweg naby die Riverville-sportterrein op Riversdal in puin gelê is.
Die brand het Saterdagaand, 20 Maart omstreeks 20:30 uitgebreek.
Bure en die polisie het alles in hul vermoë gedoen om die vlamme onder beheer te kry, maar hul pogings was tevergeefs.
Hulle kon darem daarin slaag om van die meubels in die steenhuis te red. Die informele struktuur was agter die huis op die erf en is nou net 'n ashoop met die oorblyfsels van houtskoolmeubels, gesmelte metaaltoerusting en verskroeide herinneringe.
Die bewoners van die eenvertrekhuisie en die informele struktuur was die langnaweek plaas toe. Niemand was ten tye van die voorval tuis nie en niemand is in die voorval beseer nie.
Die brandweer het té laat opgedaag. Hulle het blykbaar 'n brand in die berg beheer na 'n trok aan die brand geslaan het en kon dus nie onmiddellik reageer nie.
FOTOGALERY: VLAMME VERWOES STRUKTUUR
Kyk 'n verskafde video hieronder:
Johanna is in sak en as. Sy is dankbaar vir almal wat probeer help het en darem 'n bietjie van haar en haar kinders se aardse besittings kon red. Sy sê sy verstaan nie wat gebeur het nie. "Daar was nie krag in die hok nie. Iemand het my plek aan die brand gesteek. Maar ek weet: God slaap nie!"
Die munisipaliteit het intussen die kragtoevoer na die huis herstel. "Nou hoef ons darem nie buite vuur te maak om te kook en te was nie."
Kyk 'n tweede video hieronder:
Inwoners is bekommerd dat die plaaslike brandweer nie oor die nodige ondersteuningshulpbronne beskik om meer as een brand tegelykertyd te kan beheer nie.
In hul kommentaar het Hessequa-munisipaliteit se mediawoordvoerder, Didi Budricks gesê dat die brandweerdiens op daardie stadium reeds na 'n brandende voertuig anderkant Garcia-pas ontbied was.
"'n Amptenaar wat van diens was, het 'n brandweerwa gaan haal en na die toneel te Vetterivier-rylaan gegaan. Die brandweerpersoneel het intussen ook vanaf die voertuig-toneel na die huisbrand onttrek.
"Met hulle aankoms op die toneel, omstreeks 20:54, is gevind dat 'n informele struktuur reeds uitgebrand was. Die brandweerpersoneel het hulle dus toegespits om die omliggende strukture te beskerm. Die toneel was teen 22:00 beveilig."
Die munisipale bestuurder, Johan Jacobs het bevestig dat Hessequa oor voldoende kapasiteit beskik om brande effektief te bestry. "Hessequa beskik oor groter brandweerkapasiteit as baie ander munisipaliteite en brei die diens voortdurend uit."
Vorige artikel: Brand by Riverville
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'