ALBERTINIA NUUS - Die vinnige optrede van kapt. Susan Botha, plaaslike stasiebevelvoerder, het gelei tot die arrestasies van drie mans en twee vrouens.
Volgens Botha het 'n bejaarde dame Woensdag 25 April by die mobiele kitsbank van FNB probeer geld trek, toe 'n onbekende man die kaart uit haar hand gryp en weghardloop. Haar man, wat by haar gestaan het, kon nie die man agternasit nie.
'n Buurtwaglid wat in die omgewing was en gesien het wat gebeur, het die dame gehelp om haar kaart te kanselleer.
"Terwyl hulle besig was, het die vrou 'n kennisgewing gekry dat daar pas R3 000 uit haar rekening onttrek is," verduidelik Botha. "Ons vermoed dat die kaart gekloon is."
Die vrou se man het dadelik na die kitsbank gehardloop om die geld by hom te kry, maar hy het weggehardloop en geskree: "It's my money, it's my money!" Hy het toe in 'n blou Etios gespring en weggejaag.
Die buurtwaglid het vir Botha, wat vanaf Mosselbaai onderweg terug na Albertinia was, van die voorval in kennis gestel en haar gevra om op die uitkyk vir die voertuig te wees. Digby die Gouritzbrug het sy toe wel die motor opgemerk en dadelik omgedraai.
"Hy het my gesien en begin jaag, waarna ek die polisie van KwaNongaba, Mosselbaai en Da Gamaskop laat weet het. Die voertuig is by die Engen-garage op die N2 afgetrek en het ek die insittendes, waaronder drie mans en twee vrouens gearresteer."
Die verdagtes het Donderdag 26 April in die plaaslike hof op aanklag van diefstal verskyn en bly in aanhouding tot hul volgende verskyning.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'