Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Vermeende verkragter is in Riversdal gearresteer en word met twee nie-verwante seksmisdrywe verbind.
Sersant Christopher Spies, kommunikasiebeampte vir die Suid-Kaap polisie sê die 23-jarige verdagte is Donderdag, 17 Desember in hegtenis geneem.
Volgens Spies het hy na bewering op 12 Desember, omstreeks 23:30 'n 32-jarige vrou op 'n plaas net buite die dorp verkrag.
"Die slagoffer was na haar woning op die plaas onderweg toe hy haar van agter gegryp, met 'n mes gedreig en haar verkrag het. Hy het daarna op vlug geslaan."
In die tweede voorval word 'n klag van poging tot verkragting ondersoek. Spies verduidelik die verdagte het op 17 Desember, omstreeks 21:40 probeer om 'n 21-jarige slagoffer by haar huis in Mandelastraat, Riversdal te verkrag.
"Die verdagte wat aan die slagoffer bekend is, het haar aangerand en gepoog om haar te verkrag. Hy het op die vlug geslaan."
Die verdagte het Maandag, 21 Desember in Riversdal-landdroshof verskyn. Spies sê die moontlikheid is nie uitgesluit dat nog klagtes teen die verdagte aanhangig gemaak kan word nie.
Vorige artikel: Verdagte vas na verkragting op plaas
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'