Update
ALBERTINIA NUUS - Verskeie geestelike leiers op Albertinia het onlangs in die Tabernakel bymekaargekom waar gebedsaksie vir dié dorp bespreek is.
Die visie en doelwit van die gebedsaksie is voortdurende, eensgesinde en doelgerigte gebed vir die dorp en gemeenskap.
Die onderskeie geestelike groepe sal elke twee weke een ekstra gebedsaak voor God bring. Hulle versoek dat hul gemeente- en groeplede dan daagliks by hul huise oor hierdie saak sal saambid. Die gebedsake sal iets wees wat op die dorp as 'n geheel van toepassing is, soos die voorkoming en bekamping van misdaad, werkloosheid en ekonomiese groei, asook beskerming vir die polisie.
Die sameroeper, Sam Coetzee het 'n kort boodskap uit Handelinge 12 gebring. Die gedeelte fokus op die Handelinge-gemeente wat as 'n eenheid saamgebid het vir Petrus se vrylating. God het hul gebed geantwoord deur 'n engel te stuur om Petrus te red.
"Wanneer 'n gemeenskap as een saamstaan in eengesinde gebed, vind wonderwerke plaas," het Coetzee gesê.
Raadslid Liza Stroebel van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het burgemeester Memory Booysen verteenwoordig. Booysen is die voorsitter van die Garden Route Faith-Based Organisations Forum (FBO). Stroebel het oor die doelstelling van die FBO gepraat. Dit sluit in die herstel van die plaaslike ekonomie en werkloosheid, emosionele en geestelike welstand van mense en die veiligheid van die gemeenskap met die toenemende misdaad.
Die Wes-Kaapse provinsiale regering het 'n interministeriële komitee, onder leiding en voorsitterskap van minister Ivan Meyer tot stand gebring om interaksie met Wes-Kaapse geloofsorganisasies (FBO's) en godsdienstige leiers te bevorder. Die komitee, waat weekliks vergader, se fokus is om vaardighede in die geestelike gemeenskap aan te wend om die sorgsame en humanitêre voetspoor na behoeftiges uit te brei.
Distriksburgemeesters van die verskillende munisipaliteite in die Wes-Kaap is deel van hierdie platform en word aangemoedig om soortgelyke forums in hul onderskeie distrikte te stig. Forums is reeds in George, Knysna en Mosselbaai gestig en die lede vergader weekliks via 'n aanlynplatform. Die verwagting is dat ander forums in die Tuinroete binnekort sal volg.
Die geleentheid is deur Coetzee afgesluit waarin hy noem dat die FBO saam met die Albertinia-gemeenskapsgebedsaksie tot voordeel van al die inwoners sal wees.
Geestelike leiers en inwoners wat by die aksie wil inskakel, kan Sam Coetzee kontak (083 309 9158).
Vorige artikel: Eenheid in gebed
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'