Update
HEIDELBERG NUUS - Die personeel van Kairos Senior Sekondêr, Abet Geletterdheidsentrum en die plaaslike E-Centre is al raadop oor die vandalisme op hul onderskeie persele.
Veral Kairos is die afgelope tyd baie skade berokken. Volgens die hoof, Vivian Prins, is daar gedurende die afgelope week nie minder nie as 34 ruite, 114 vensterknippe, krane en koperpype gesteel.
Prins noem dat die lugverkoelingstelsel ook onder die vandale deurloop omdat die diewe die diefwering rondom dit beskadig om die koperpype te verwyder.
"Dit kos die skool ongeveer R10 000 om die skade te herstel en te vervang, geld wat die skool nie het nie. Dit gaan my verstand te bowe dat die persone nie besef watter skade hulle aan die skool aanrig nie," het hy ontsteld gesê.
Volgens die personeel van Abet en E-Centre besef die vandale duidelik nie dat hulle deur hulle optrede die persone wat van die sentrum se dienste gebruik maak, se ambisies dwarsboom nie. Dit is gewoonlik naweke of vakansies wanneer vandale toeslaan.
Buiten afskuwelike graffiti teen die mure by die Abet-sentrum se ingang, word die rioolstelsel en watertoevoer se pype ook gereeld beskadig.
Die ruite word by die vensterknippe gebreek om die knippe te verwyder. Foto's: Clive Pretorius
Sers. Imorgene Hendricks, polisiewoord-voerder het bevestig dat kriminele klagtes by die plaaslike polisie aanhangig gemaak is. Sy doen 'n beroep op alle inwoners om, indien hulle weet wie die skuldiges is, dit onmiddellik aan te meld.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'