HESSEQUA NUUS - Die Desembervakansie is om die draai en daarmee saam vir talle mense, heerlike familiekuiers.
Of is dit nou so heerlik...? Familiebande beteken nie almal het noodwendig dieselfde idees oor wat pret, onskuldige opmerkings, lekker kos en dies meer is nie.
Kenners is dit eens dat emosionele voorbereiding noodsaaklik is.
Om die gaste se aankomsdatum kop-in-die-sand te ignoreer het die potensiaal om net meer probleme te skep. Pols hulle oor uitstappies waarin hulle moontlik sal belangstel, terwyl ruimte vir spontane besluite steeds gelaat word. Vergewis jou van enige spesiale dieet. Indien 'n gas voedselallergieë het, is dit wys om vooraf te versoek dat alternatiewe vir problematiese kossoorte self verskaf word.
Tref vooraf met jou gaste reëlings oor hul finansiële bydrae en maak seker hoe lank die kuier sal duur. Alex Muller stel op Suid-Kaap Forum se Facebook-blad die volgende voor: "Kom ons maak 'n deal: Julle koop kos vir die eerste week en ons vir die laaste week." Nolene Bouwer sê sy vra gaste R100 per gesin per dag: "Almal deel in die onkostes en vreugdes en niemand stres oor onregverdigheid nie." Volgens Theresa Taylor Pretorius is fermheid die sleutel: "'n Mens moet maar riglyne neerlê. My mense respekteer al vir 20 jaar ons wense."
Vir die hantering van ongenooide gaste het Rex Bester die volgende raad: "Indien jy hulle nie genooi het nie moet jy braaf genoeg wees om vrae soos hoe lank hulle wil bly, te stel. Indien dit jou nie pas nie, wees eerlik en maak jou reëls. Hulle het 'n keuse om daarby aan te pas of nie. Moenie slapgat wees en jou laat stoomroller nie."
Die belangrikste is om te ontspan en 'n welverdiende blaaskans te geniet.
'n Paar probleemgaste onder die vergrootglas:
- Die een wat alles weet: Sommige mense het menings oor alles onder die son en is nie skaam om dit te lug nie. Indien dit konfrontasie veroorsaak moet die gesprek so lighartig as moontlik, maar ferm gestop word. Probeer die onderwerp taktvol verander.
- Die oorywerige helper: Goeie bedoelings laat soms 'n gas onder almal se voete beland. Haal diep asem en herinner jouself dat die persoon regtig probeer gaaf wees. Sê opreg dankie vir die hulp en stuur hom/haar na 'n taak wat nie in almal se pad is nie, byvoorbeeld om bestellings vir drankies te gaan neem.
- Die afwesige ouer: Ouers glo dikwels partytjies is die een plek waar al die aanwesiges oplet na kinders. Terwyl hulle heerlik kuier, vang die kinders dalk stoutighede aan en versondig almal se siele. Wees voorbereid met flieks of speletjies om die jonges besig te hou indien jy nie 'n oppasser kan reël nie.
- Die moeilikheidmaker: Mense wat nie die moed het om standpunt teenoor individue in te neem nie, begin soms argumente in groepsgeselskap omdat hulle veiliger voel. Dink 'n lighartige verskoning uit en skei die omgekrapte partye so gou moontlik van mekaar, sodat hulle kan afkoel.
- Die dikbek-tiener: Die beste ding is om die gedrag te ignoreer.
- Die een 'onder die prop': Die beste teenvoeter vir oormatige drankgebruik is om in die eerste plek te sorg dat daar nie te veel beskikbaar is nie. Gaste bring egter dikwels hul eie vloeibare verversings om koste vir die gasheer te verminder. Sorg vir genoeg peuselgoed. Indien die gedrag handuit ruk, moet jy ferm standpunt inneem daaroor - dit is jou huis en jou reëls.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'