STILBAAI NUUS - "Ons het nog almal gejuig en gesê ons is uiteindelik hier, nou begin ons vakansie - en toe tref die ander motor ons."
So het JH Kruger, die bestuurder van een van die voertuie verduidelik wat etlike sekondes voor impak gebeur het.
Kruger en sy gesin se vakansie het sleg begin nadat hul dubbelkajuit-bakkie en sleepwa Saterdag 31 Maart in die veld beland het na die botsing. Hul voertuig is by 'n hoë wal af en het teen 'n draadheining tot stilstand gekom. Kruger, sy vrou en kinders was geskok en getraumatiseer.
Hulle het in Stilbaai se rigting op die R305 gery toe die ongeluk naby Hecktorskraal se afdraai gebeur het.
Volgens ao. Morné D' Emiljo (Vispol) het Willem May se motor die Hilux-bakkie op die linkerkant getref.
May was vir langer as 'n uur in sy voertuig vasgekeer. Nooddienspersoneel moes hom met meganiese kake bevry.
Een van sy bene is gebreek en hy is na George-hospitaal geneem. Die pad was vir 'n rukkie gesluit.
Die Kruger-kinders is op die toneel behandel en die ma is na Riversdal-hospitaal geneem. Sy is later die aand ontslaan.
Die waentjie wat die bakkie gesleep het staan teen die wal waar die voertuig afgery het.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'