Die groot herrie oor die verkoop en uitbetaling van die dividende aan sekere begunstigdes van die plaas Nooitgedacht, waar oor dié sowat 15 begunstigdes sedert Desember 2009 vir hul dividende baklei, wil of kan net nie opgelos word nie, al het die erg gegriefdes reeds in Junie 2010 'n hooggeregshof bevel gekry om die trustees te dwing om die nodige dokumente aan hulle te verskaf.
Die plaas is sowat ses jaar gelede vir R3.6 miljoen verkoop, maar hewige onmin heers nog steeds omdat die trustees van die Swellendam kleinboere trust, onder die leierskap van past. Henry Mathyssen en sy broer Julian, voormalige ACDP raadslid hulle nie aan die bevel steur nie. Laasgenoemde is uit die ACDP geskors.
Hy was voorheen speaker, onder-burgemeester en nog tot onlangs kortstondig burgemeester toe die ANC beheer oorgeneem het.
Volgens die hofbevel in Junie 2010 moes die trust binne 14 dae al die dokumente vanaf 2000 aan hulle beskikbaar gestel het. Dit is egter tot op hede nie gedoen nie. Die twee leiers van die groep, Michael Waweni en Steven Kamani vermoed onraad nadat hul derde regspan ook nog niks konstruktief uitgevoer het nie - dít nadat hulle reeds R56 000 in die prokureur se trustrekening op drie verskillende datums inbetaal het (Suid-Kaap FORUM het die dokumentasie in besit). Volgens Waweni vermoed hulle erge onreëlmatighede onder die regsspanne.)
Kamani sê dat hulle verlede jaar self na die hooggeregshof was om uit te vind hoekom hulle saak 'kwansuis van die hofrol verdwyn het' nadat hulle op 24 Augustus 2011 'n hofdatum deur 'n advokaat by die einste hoogeregshof gekry het. Wat hulle so gal laat braak is die feit dat, nadat hulle by twee kantore by die hof navraag gedoen het, is hulle deur twee amptenare meegedeel dat hul saak nie op die hofrol vir dié dag was nie. Daarna is hulle na die hoof-griffier van die hof, me. Ruanne David verwys waar dié hulle ook meegedeel het dat daar nie 'n regter vir hul saak was nie.
Volgens Waweni het David aan hulle gesê dat hul advokaat se praktyknota seker nie die dringendheid van hul saak uitgewys het nie en dat dit seker laat by die regter-president uitgekom het. Sy het ook laat blyk dat sy wel bewus van dié saak was, maar dat sy nie verantwoordelik is vir die goedkeuring van die aansoeke nie. Dié pligte volgens haar, is die regter-president se verantwoordelikheid.
Waweni sê dat hy wel die praktyknota van sy prokureur ontvang het en dat dit volgens hom, wat 'n leek op dié gebied is, wel genoegsame redes aangevoer het. "Dit is egter baie frusterend dat die saak so lank sloer om afgehandel te word. Ons gaan die wetgenootskap ook nader om ondersoek in te stel of die fooie wat ons tot dusver betaal het, regverdig is vir die min werk wat die drie regspanne vir ons gedoen het," het hy duidelik ongelukkig gesê.

Die groep begunstigdes van die Swellendam kleinboere vereniging is al moeg gesukkel vir hul dividende van die verkoop van die plaas Nooitgedacht. Hier staan hulle met die finansiële verslae wat hulle eenparig verwerp het. Van links agter staan Sam Afrikaner, Clifford Thompson, Lewies September, Steven Kamani, Piet Claassen, Robert Pike, Jacky Libazi en Michael Waweni. Voor sit Anna Waweni, Magrieta Booysen en Angeline Kamani.