HESSEQUA NUUS - Die feesseisoen is hier en die vakansie is op ons drumpel - of ten minste vir 'n groot deel van die bevolking wat nie gedurende Desember hoef te werk nie. Ander moet by die kantoor of werk die fort hou.
Kersversierings is om elke hoek en draai sigbaar, oral is bordjies wat winskopies verkondig en Kersliedere speel in winkelsentrums. Almal is bewus van die feestelike stemming wat heers.
Ons kan terugkyk na die afgelope jaar wat vir elkeen 'n ander betekenis het. Ssommige het byvoegings tot die familie gekry, terwyl ander dalk geliefdes aan die dood moes afstaan. Een van die belangrikste dinge van die vakansie is dat dit ons geleentheid bied om dankbaar te wees vir wat ons het en diegene wat minder gelukkig is, te ondersteun.
Aan elke toeris en vakansieganger wat Hessequa besoek wil ek my dank uitspreek omdat julle 'n positiewe bydrae tot ons streek se ekonomie lewer. Ons rig aan julle 'n uitnodiging om plaaslike besighede wat eie aan ons mense en omgewing is, te ondersteun.
Ek wil u egter ook versoek om tydens u verblyf water spaarsamig te gebruik omdat die Wes-Kaap onder 'n geweldige droogte gebuk gaan.
In die gees van Kersfees wens ek en die raad u 'n geseënde en voorspoedige vakansie toe. Mag die Here se goedheid en guns tydens die feesseisoen oor u en u familie rus en u veilig by u eindbestemming besorg.
Kersgroete
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'