STILBAAI NUUS - U3A (The University of the Third Age), floreer in Stilbaai. Dit is 'n internasionale organisasie met sy oorsprong in Frankryk en dit was onvermydelik dat dit in Stilbaai sou posvat.
U3A is in Mei 2015 in Stilbaai gestig met slegs 20 lede en teen die einde van 2022 was daar 300 ingeskrewe lede.
Die lede vergader elke laaste Maandag van die maand en dit is in die vorm van lesings en praatjies oor interessante onderwerpe wat ongeveer 'n uur duur.
Die doel van U3A in Stilbaai is om die lewenskwaliteit van ouer mense, spesifiek afgetrede mense, te verbeter.
Stilbaai is 'n gesogte aftreedorp en hierdie groep poog om hulle lede se intellektuele kapasiteit te bevorder met leer- en onderrigprogramme. Dit word gedoen met stimuleringsprogramme deur kundiges, normaalweg uit die U3A-groep.
Die sosiale kontak as gevolg van hierdie maandelikse samekomste is natuurlik ook baie belangrik en hegte vriendskapsbande word hier gesmee. Dit dra ook by dat mense nie afgestomp raak nie.
Enigeen kan 'n lid word en lidmaatskap beloop R30 per persoon per jaar.
U3A het verskeie groepe wat aktiwiteite vir lede aanbied.
Die bestuurskomitee vir 2023 bestaan uit:
- Niel van Wyk (voorsitter)
- Deon Begeman (ondervoorsitter)
- Eugenie Wiggens (sekretaris)
- Johan Buys (ssistent-sekretaris)
- Estelle van Rooyen (tesourier)
- Karel Nel en Phil Scheffer (tegniese hulp)
- Pieter du Toit (addisionele lid)
- Marguerite Smit (addisionele lid)
U3A het iets vir ieder en elk en met die maandelikse samekomste in die Waenhuis by Jagersbosch is die saal gewoonlik stampvol.
Rig alle navrae aan info@u3astilbaai.org
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'