STILBAAI NUUS - 'n Privaat toegangspad vanaf die walvisuitkykpunt op dié dorp tot 'n nuwe woonhuis by die hawe was 'n turksvy totdat inwoners en die munisipaliteit hande gevat het om die gebied in 'n plesier te omskep.
Hoewel die uitkykpunt nie ontwikkel was nie het die plaaslike argeologiese vereniging kommer oor die invloed van die pad op die plantegroei en nabygeleë skulphoop uitgespreek. Daar was ook nie formele parkeerplekke uitgelê nie en motors het oral gery.
Die grond behoort aan die Hessequa-munisipaliteit en raadslede het saam met die Stilbaai-belangeforum en die Harris-gesin, wie se woonhuis in aanbouing was, na 'n oplossing begin soek. Die hulp van die plantkundige en bekende Stilbaaier Naomi van Schalkwyk is ingeroep om die uitkykpunt te verfraai en in 'n toerismebate te omskep. So is die Tuin-op-die-Duin gebore.
Van Schalkwyk vertel dat sy plante moes kies wat nie te hoog sal groei en uitsig belemmer nie, wat in sand aard en wat windbestand is. Inwoners het skenkings gemaak en die munisipaliteit het klip en grond verskaf.
Mev. Harris het 'n geldelike bydrae gemaak en onder Van Schalkwyk se bekwame leiding het munisipale werkers die grond gelyk gemaak en die agterste parkeerterrein gekompakteer en gruisstof ingewerk. Die plante het een na die ander hul plek gekry en besproeiingspype is gelê. In Desember 2018 het die Stilbaai-belangeforum 'n nuwe inligtingsbord oor die noorkapperwalvisse laat maak wat aan die ander kant van die parkeerarea opgerig is.
'n Toeristehoekie het gestalte gekry toe Archie van Dyke 'n reling waaraan 'liefdeslotte' vasgesluit kan word, langsaan opgerig het.
Daar is ook 'n paal met rigtingwysers na besienswaardighede geplant. Die munisipaliteit het 'n aantal bankies geskenk.
Die eertydse kaal stuk grond het mettertyd in 'n rustige, aangename plek verander wat besoekers uitnooi om 'n rukkie te rus en die walvisse se spel te geniet. Die plante is gevestig en die minimale onderhoud word gesamentlik deur die munisipaliteit en die Van Schalkwyk-egpaar behartig. Met die laaste telling was daar reeds 118 slotte aan die reling vasgesluit. Samewerking het 'n nuwe sieraad vir die dorp geskep.
Lees die berig oor die amptelike oorhandiging van die nuwe walvisinligtings-bord in Suid-Kaap Forum van 15 Augustus, of lees dit hier.
Tuin-op-die-Duin nooi jou uit om rustig die walvisse te sit en bekyk.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'