STILBAAI NUUS - Die grasieuse vertonings van die Suidelike noorkapperwalvis, wat jaarliks tussen Junie en Desember terugkeer na die Suider-Afrikaanse kus, is 'n gewilde toerisme-aantreklikheid.
Die oprigting van 'n splinternuwe inligtingsbord, wat op 31 Julie amptelik oorhandig is, vervang die ou verbleikte een en sal beslis waarde tot die ervaring by die walvis-uitkykpunt in die kusdorp bydra.
Die bord is ontwerp deur Noel en Belinda Ashton, kunstenaars van Noordhoek, Kaapstad. Die Stilbaai-belangeforum het International Fund for Animal Welfare (IFAW) genader vir finansiering, wat deur Christina Pretorius van die fonds bewillig is.
Die belangeforum en munisipaliteit het die bord vanaf Kaapstad na Stilbaai vervoer en dit is met die hulp van die tegniese departement opgerig.
Die vervanging van die ou bord dra by tot die verfraaiing van die walvis-uitkykpunt wat deur Naomi van Schalkwyk met ruim bydraes van die Harris-familie van Skuitpadweg gedoen word. Die nuwe bord, wat so geplaas is dat dit nie so maklik deur die son verbleik sal word nie, vorm deel van die inligtingshoek.
Johan Jacobs, munisipale bestuurder, het die belangeforum bedank vir die wonderlike gebaar en hul verbintenis daartoe om die omgewing te verfraai tot voordeel van inwoners en besoekers.
Die inligtingsbord is amptelik in ontvangs geneem deur burgemeester Grant Riddles, wat namens die munisipaliteit sy waardering vir die forum se ondernemingsgees uitgespreek het.
'n Nuwe bord met inligting oor die Suidelike noorkapper-walvis is by die Uitkykpunt op Stilbaai aangebring. Van links: Dr. Deon Begemann van die Stilbaai-belangeforum en Stilbaai-bewaringstrust, Gustav Radloff, voorsitter van die Belangeforum, rdl. Tinus van den Berg, Niel van Wyk van die Stilbaai-belangeforum, burgemeester Grant Riddles, dr. Gerrit Mars van die Belangeforum, raadslede Ben Smith en Simon Odendaal en Harold Basson, direkteur: tegniese dienste.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'