Update
HESSEQUA NUUS - Twee nuwe lede van die Hessequa-munisipale ouditkomitee is op 28 Maart tydens 'n raadsvergadering aangestel.
Prof Max Döckel en Annelene Hartnick sluit aan by die huidige lede, Kosie Herbst, Hugo Zietsman en Sandra van Jaarsveld.
Nadat 'n vakature ontstaan het as gevolg van 'n bedanking uit die komitee is Hartnick vanaf 1 Mei aangestel.
Döckel is vanaf 1 September aangestel omdat die tweede termyn van prof Flip du Plessis verval het.
Volgens die munisipaliteit word ouditkomiteelede vir 'n aanvanklike termyn van drie jaar aangestel, waarna 'n lid weer heraangestel kan word vir 'n addisionele termyn van drie jaar. Na twee termyne moet 'n lid eers deur 'n 'afkoelperiode' gaan waarna hul weer vir die ouditkomitee oorweeg kan word.
'n Ouditkomitee is onafhanklik en moet die munisipale raad, politieke ampsdraers, rekenpligtige beampte en bestuurspersoneel adviseer.
Werksaamhede bestaan uit advies rakende aangeleenthede soos interne finansiële kontrole en interne oudits van risikobestuur, rekenkundige beleide, die toereikendheid, betroubaarheid en akkuraatheid van finansiële verslagdoening en inligting, prestasiebestuur en prestasie evaluering, effektiewe bestuur, nakoming van die MFMA, wet op verdeling van inkomste en enige ander toepaslike wetgewing.
Die komitee moet ook die jaarlikse finansiële state van die munisipaliteit hersien om 'n gesaghebbende mening daaroor te kan gee voor indiening daarvan by die kantoor van die ouditeur-generaal. Die volledige werksaamhede van 'n ouditkomitee word uiteengesit in Artikel 166 van die MFMA, Wet 56 van 2003.
Lees 'n vorige artikel: 2 Nuwe lede vir Munisipale ouditkomitee
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'