SUID-KAAP NUUS - Die jeug word om die bos gelei deur hulle te laat glo dat die rook van tabakprodukte in ander vorme veiliger is.
Navorsing bewys dat die gebruik van 'n hookah-pyp dieselfde gesondheidrisiko's inhou as die rook van sigarette. Die veiligheid van e-sigarette is nog nie wetenskaplik bewys nie.
Joggie Kok (36) vertel hoe hy begin rook het en waarom hy opgehou het: "Ek het begin want die cool kinders het dit gedoen en ek wou ook so gesien word. Ek het begin met een sigaret deel tussen maats om te sien hoe dit is. As ek die besluit weer moes neem sou ek dit nooit doen nie. Neem 'n besluit dat jou gesondheid en toekoms belangriker is en hou daarby! Jou brein is nie jou slaaf nie en jy neem jou eie besluite!"
Die rook van tabakprodukte is die hoofoorsaak vir ongesonde longe, longkanker en meer as 20 verskillende ander soorte kanker. Die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) doen 'n beroep op die gemeenskap om dit te oorweeg om die gebruik van tabakprodukte in enige vorm te staak. Dit sal help om die risiko van kanker te verlaag en sal deel wees van die 365 Dae-gesondheidveldtog in die aanloop tot Wêreld Geen Tabakdag op 31 Mei, #WorldNoTobaccoDay.
"Ek het begin toe ek 13 was om cool te wees tussen maats," het Robert Burger gesê. "Ek het twee maande terug opgehou (23 jaar later) en dis elke dag nog 'n besluit wat ek moet neem as ek opstaan. Moet nooit begin nie. Dis die moeilikste gewoonte om te breek. Ek het medikasie gebruik wat dit makliker gemaak het, maar selfs dit was 'n proses van drie maande lank. Nou moet ek die skaal ook nog dophou anders tel ek 20 kg op want mens se hande wil besig wees."
KANSA moedig rokers aan om te begin waar hulle is (#StartWhereYouAre). Eerstens moet jy erken dat rook skadelik vir jou gesondheid is. Neem 'n daadwerklike besluit om die rook-gewoonte te staak. Die goeie nuus is dat ondersteuning gebied word vir mense wat wil ophou rook. Met die Allen Carr's Easy way to Stop Smoking Programme, kry jy nuttige wenke. Besoek www.allencarr.com vir dié program.
Rokers wat wil ophou rook, kan ook by KANSA se eKick Butt-program (www.ekickbutt.org.za) aansluit wat nuttige wenke verskaf. Jy kan selfs die National Council Against Smoking (NCAS) QUIT Line skakel by 011 720 3145 of 'n e-pos stuur na quit@iafrica.com. KANSA het 'n tolvrye nommer, 0800 22 66 22 wat jy vir meer inligting en hulp kan skakel.
Besoek KANSA se webtuiste by www.cansa.org.za, skakel hul sorgsentrum in George by 044 874 4824 of stuur 'n e-pos aan info@cansa.org.za
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'