Gallery Update
RIVERSDAL NUUS- Hessequa-munisipaliteit, in samewerking met die Riversdal-tuinbouklub, het kragte saamgespan om die burgersentrum se tuin te verfraai.
Die eerste fase van die projek was om die besproeiing-stelsel te herstel en uit te brei sodat die volle grasperk onder besproeiing is.
Die uitleg van die tuin is deur Essie Fourie ontwerp waarna die tuinbouklub en munisipale personeel, onder leiding van Jan Fourie, ingespring het om die groen plan uit te voer.
Die eindresultaat getuig wat vermag kan word as mense saamwerk en vennootskappe tussen die munisipaliteit en plaaslike instansies verbeter dienslewering.
Munisipale Bestuurder, Johan Jacobs sê dit is projekte soos hierdie wat lei tot volhoubare plaaslike regering. "Die kundigheid van lede van die publiek, gekoppel met entoesiasme lei tot 'n verbintenis tot instandhouding en eienaarskap van projekte. Die munisipale span wat betrokke was by die skep van die tuin is net so opgewonde en trots op die resultaat."
Fotogalery: Riversdal burgersentrum tuin verfraai
Jacobs het die lede van die tuinbouklub opreg bedank vir hulle bydra. 'n Spesiale woord van dank gaan ook aan Hoër Landbouskool Oakdale, Jaco van Dyk, Fanie le Roux en verskeie lede van die Riversdal-tuinbouklub vir die ruim donasies van klippe, bome en plante.
Soortgelyke projekte het in Stilbaai plaasgevind waar die Stilbaai-tuinbouklub die tuine voor die munisipaliteit en polisiekantoor saam met die munisipaliteit in 'n lushof omskep het.
Vorige artikel: Amptenary en inwoners met groen vingers werk saam
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'