Gallery Update
RIVERSDAL NUUS - Die tuinbouklub se September-uitstappie het die lede 'n ware 'toeka tot nou'-ervaring laat beleef.
Altesaam 21 lede het die sesde uitstappie van die jaar op 11 September meegemaak. Stormsvlei, sowat 20 km oos van Riviersonderend, was die eerste stilhouplek.
"Dr. Morley Thomson en sy vrou Monica het ons op 'n toer van die ou poskantoor, skooltjie, kerk en 'n wamakersgebou, kompleet met die oorspronklike gereedskap en 'n draaitafel geneem," vertel Anzette Finnemore. Van hierdie ou geboue is as selfsorgeenhede ingerig en dié gastehuisies grens aan die Sonderendrivier.
Oorkant die nedersetting is tee en skons by 'n restaurant geniet voor hulle na die Jakes Gerwel Tegniese Hoërskool in Bonnievale gereis het. Die skoolhoof, mnr. Mocke het hulle op 'n toer deur die skool geneem en meer oor die geskiedenis vertel. Dit is vernoem na Jakes Gerwel (Gert Johannes Gerwel), wat as plaaswerkerseun in die Oos-Kaap gebore is. Later jare het hy akademikus en anti-apartheid aktivis geword en tydens Nelson Mandela se bewind was hy direkteur-generaal in die presidensie.
Een van die stigterslede het die doel van die skool so verwoord: "Die skool moet die gemeenskap genees." Leerders ontvang hoë gehalte onderrig in sport, kultuur en akademie, asook tegniese vaardighede soos sweiswerk, landbou en huishoudkunde.
Middagete is by Relish at Route 62 geniet voor die groep na die Mooiuitsig-wynplaas vertrek het. Daar het Magiel Jonker hulle deur die oorspronklike plaashuis se tuin geneem.
Die toer is afgesluit met 'n besoek aan die historiese Myrtle Rigg-klipkerkie met sy mooi marmervloere en loodglasvensters. Dit dateer uit die 1920's en is in herinnering aan Mary Myrtle gebou. Sy is in 1903 gebore en was glo 'n pragtige, gelowige dogtertjie. Voor sy in 1911 aan breinvliesontsteking gesterf het, het sy haar ouers op haar sterfbed versoek om 'n kerkie vir haar op te rig. Haar pa, Christopher Forrest Rigg, het die kerkie van klip uit die Bonnievale-gebied laat bou. Die eerste Anglikaanse diens is in 1924 daar gehou.
"Een van die treffendste tekeninge teen 'n muur wat ek nog gesien het is dié van Myrtle as dogtertjie wat bo die swaar houtdeure hang.
"Die tekening is van 'n jong, blonde dogtertjie teen die agtergrond van 'n oop veld. Agter haar is 'n roosboom wat haar sewe lewensjare aandui. Die woorde 'a little child shall lead them' is daarby aangebring."
Die tekening van die jong Mary Myrtle Rigg is bokant die swaar houtdeure van die kerkie wat ter herinnering aan haar gebou is, aangebring.
Die pragtige tuin van Mooiuitsig-wynplaas. Van links: Hilda Botes, Alet Marais, Lettie Murray en Pam van Zyl.
Lees 'n vorige artikel hier: Tuinbouklub loop ver paaie terug
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'