RIVERSDAL NUUS - Die plaaslike Greenfingers-tuinbouklub het op Woensdag 6 Februarie die jaar met 'n praggeleentheid begin.
Die tema was 'Fantasie met Blomme', aangebied deur Diederik Geldenhuys.
Dié geleentheid by die historiese De Doornkraal Boutique Hotel het wye belangstelling ontlok en was baie goed verteenwoordig.
Geldenhuys is geen onbekende in die dorp nie. Hy is hier gebore en het 'n passie en talent om met blomme te toor. Na sy skoolloopbaan by die Hoër Landbouskool Oakdale was hy 'n kanarie in die lugmag. Daarna het hy drama studeer en twee jaar in Engeland by die Koninklike Operahuis gewerk. In die 90's het hy na sy tuisdorp teruggekeer en betrokke by St. Matthews kerk se blommefeeste geraak. Vandag is hy alombekend as dié persoon om bruide se blomme by hul troues te doen.
Sy aanbieding was verfrissend. Hy het sy inspirasie uit die aarde gekry. Hy begin met 'n konstruksie van boomwortels wat hy kunstig met verskillende soorte rooi blomme tooi. Hy maak ook baie gebruik van outydse blomme soos dahlias, hanekamme en gladiolas, wat nou weer baie in die mode is.
Met sy volgende voorstelling gebruik hy bas vir sy konstruksie. Bas is welriekend, as ons byvoorbeeld aan kaneel dink. Hy gebruik welriekende geel blomme en kranse
van kooigoed wat kunstig gekombineer word.
Volgende word stokke as konstruksie gebruik met skakerings van pienk langsteel krisante wat kunstig vervleg word. Dan gebruik hy 'n veldbrand as tema vir sy volgende voorstelling. Gebrande stokke word met gebrande protea repes (suikerkane) versier.
Groen blare word kunstig rangskik om 'n troukoek op 'n staander uit te beeld. Hy sluit sy aanbieding af met 'n skouspel van kleur en oorvloed blomme wat die hangende tuine van Babilon voorstel.
Zita Birch bedank al die borge wat die geleentheid moontlik gemaak het. Erkenning word gegee aan die plaaslike kunstenaars wat uitgestal het.
Birch sluit die oggend gepas af met 'n aanhaling van Vincent van Gogh: "If you truly love nature, you will find beauty everywhere."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'