Update
HESSEQUA NUUS - Vetkragga Boerdery is Vrydag, 1 Oktober by 'n spoggeleentheid, aangebied deur die Wes-Kaapse Departement van landbou en die Riversdal-landbougenootskap as die beste presterende plaas aangewys.
Dit het by Kweekkraal-gasteplaas buite Riversdal plaasgevind, waar die top landbouwerkers in die Hessequa- en Kannalandstreke aangewys is.
Die kompetisie het sy ontstaan te danke aan 'n boervrou in die Hexriviervallei wat in 2002 besluit het om die top landbouwerkers te vereer. Die Wes-Kaapse departement van landbou het in 2005 deel daarvan geraak. Dit het so vinnig gegroei dat daar teen 2019 reeds 16 landboustreke in die Wes-Kaap daarvan deel was. Hierdie streke wys jaarliks wenners aan wat dan in 'n provinsiale kompetisie teen mekaar meeding.
Afdelings
Die afdelings waarin meegeding word, is beste algemene werker, beste trekker operateur, beste administratiewe personeel, beste diereproduksie en beste voorman of -vrou. Daar is ook die beste presterende plaas, beste potensiaal en die agri-werker van die jaar.
In sy verwelkoming het Tielman Roos die werkgewers bedank omdat hulle hul mense aan die kompetisie laat deelneem en ook omdat hulle die geleentheid kry om die toekenningsgeleentheid by te woon.
Volgens die vier beoordelaars het die entoesiasme, passie en trots van al die deelnemers vir hulle uitgestaan, omdat dit hoop vir die toekoms van landbou en vir die land gee. Gertrude Jacobs, waarnemende direkteur by die Wes-Kaapse departement van landbou het die organiseerders gekomplimenteer met die pragtige omgewing en onthaalsaal.
"Die deelnemers kry nie net erkenning vir hulle kundigheid nie, maar ook dat hulle kos op die tafel sit met hul harde werk en toewyding."
Sy het bygevoeg dat al die deelnemers uitsonderlik en spesiaal is, omdat hulle die ekonomie die laaste 18 maande aan die gang gehou het. "Moenie jou omstandighede blameer as jy nie is waar jy graag wil wees nie. Dis elkeen se keuse of jy gaan agterbly en of jy gaan vooruit beweeg. Mag hierdie geleentheid om 'n finalis te wees, die eerste van talle geleenthede wees om jouself en jou omstandighede te verbeter."
Die gasspreker en uitvoerende burgemeester van Hessequa, Grant Riddles het gesê dat hy bevoorreg voel om voor hierdie uitgelese groep te staan. Hy het sy eie kinderjare voorgehou, wat nie altyd maklik was nie.
"Ek moes elke dag na skool eers die beeste gaan soek, daarna moes ek vuurmaakhout bymekaarmaak voor ek vyfuur die middag gaan melk het. In hierdie tyd het ek self 'n klein kudde bymekaar gekry en na matriek het ek agt beeste gehad, wat ek kon verkoop om te help met my studies. Jy alleen bepaal jou toekoms."
Finaliste en wenners
Algemene Werkers: 1. Danton Steyn; 2. Johenzlo Jafta; 3. Melvin Jonas.
Diereproduksie: 1. Danwil Platjies; 2. Vons Dawids; 3. Peter Takelo.
Trekker operateur: 1. Heinrich Micheals; 2. Robert Ntsuluni; 3. Dawid Hill.
Goodman of -vrou: 1. Magdalena Christens; 2. Christolino Perel; 3. Seralph Steyn.
Adminpersoneel: 1. Hilary Latell; 2. Susarah Skiedekat; 3. Elenor Janine Gysman.
Agri-werker van die jaar: Danwil Platjies van Vetkragga Boerdery.
Beste presterende plaas: Vetkragga Boerdery.
Susarah Skiedekat het ook die toekenning ontvang vir deelnemer met beste potensiaal, omdat sy uit al die afdelings die beste potensiaal het om vooruit te beweeg.
Vorige artikel: Landbouwerkers word vereer
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'