STILBAAI NUUS - Die toevlugsentrum vir alkohol- en dwelmafhanklikheid wat verlede jaar in November onder Badisa Stilbaai tot stand gekom het, is besig om vinnig uit te brei.
Badisa is 'n nie-winsgewende Christelike welsynsorganisasie wat in die Stilbaai-, Melkhoutfontein- en Jongensfontein-, asook die landelike gebiede in die omgewing werksaam is.
'n Totaal van 18 pasiënte het die program reeds suksesvol voltooi, met 20 pasiënte wat die derde program begin het wat tans in proses is.
Met die streng regulasies tydens en na die Coronavirus-pandemie, en die gevolge van die toepassing daarvan in die streek wat onder Badisa Stilbaai val, het dié organisasie behoorlik bontgestaan met hulpverlening in die vorm van die verskaffing van kospakkies, emosionele en terapeutiese berading, asook materiële ondersteuning.
Badisa het tydens die grendel-periode 2 738 kospakkies uitgedeel.
Aangesien net ongeveer 36% van hulle begroting uit staatsubsidies bestaan, is die organisasie grootliks van donasies en skenkings uit die gemeenskap afhanklik, wat met 'n oop hand gee.
"Ons staan telkens verstom oor hoe oop die gemeenskap se harte en hande is en ons is dankbaar vir alle skenkings," sê Badisa Stilbaai se maatskaplike werker, Cornelia Giliomee."
Die sukses van die program, onder Giliomee se leiding het daartoe gelei dat Badisa-hoofkantoor twee afsonderlike posisies vir die toevlugsentrum beskikbaar gestel het. Aansoeke vir 'n maatskaplike werker en hulpwerker word tans ingewag.
Badisa Stilbaai het verskeie projekte waarby die gemeenskap betrokke is. Dit sluit in Ouma Lena se Huis, wat 'n nasorgfasiliteit vir skoolgaande kinders in Melkhoutfontein is met programme wat sport, musiek, kuns, remediërende onderwys, lewensvaardighede en vakansieprogramme insluit.
Die Seesterretjies-kleuterskool is ook 'n afdeling van Ouma Lena se Huis. Programme vir volwassenes, ouers en die jeug word ook hier aangebied.
Die Poppie-projek en Sakkie vir 'n Pakkie in samewerking met die NG kerk maak ook deel van die projekte uit, terwyl die liefdadigheids-winkel, Baaija vir Biekie die organisasie se grootste bron van inkomste is met alle gelde wat plaaslik aangewend word.
Enige persoon wat as vrywilliger by Badisa Stilbaai betrokke wil raak, kan die kantoor kontak (028 754 2203) of die webtuiste besoek.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'