Gallery Update
HESSEQUA NUUS - Diere en hul maniere bly maar 'n fassinerende gesig vir die mensdom, daarom wil Suid-Kaap Forum ons gemeenskap uitnooi om hul interessante dierestories met ons te deel.
Ons eerste bydrae kom van die koerant se korrespondent op Riversdal, die storie van ma-hen wat haar lelike kuiken nie wou hê nie...
So het dit gebeur
Die hen het haar kuiken uitgeskop, want dit was met vratte oortrek en glad nie mooi nie! Kuiken - spierwit en fyn - se gesiggie en een ogie was heeltemal bedek. Tog was sy 'n mooi hennetjie, het ek gedog.
Sy het oral toenadering gesoek, maar die ander hoenders het haar afgejak en gepik. Sy het heeltyd by my skuiling kom soek, saans langs my op die TV-stoel kom sit en dan, saam met my Gogga-dogtertjie, 'n miniatuur-doberman op ons kopkussing geslaap.
Kuiken loop toe heeldag agter my aan. As ek sit, spring sy op my voet en pik my tone. Toe weer op my kop en in my nek.
Ek vryf haar. Ek voel weer die wrede vratte wat haar gesiggie en een oog vermink. Ek streel haar tussen my ken en skouer, vryf haar liefdevol, maar ferm, oor haar gesiggie. Sy maak fyn geluidjies.
Daardie vratte gril tussen my vingers. En toe's dit af!
My lelike kuiken het my mooiste Sneeutjie geword...
Helaas: sy het gegroei en een oggend, langs my op die kopkussing, hoor ek 'n gekraai... Die lelike hennetjie is toe al die tyd 'n spoggerige haan!
Daar is skoonheid in dié sprokie; in elkeen - mens én dier.
• Het jy 'n sonderlinge dierestorie? Deel dit gerus met Suid-Kaap Forum. Stuur 'n e-pos aan cjdieloslitdj@gmail.com
Die broers...
Henna se eier.
Die lelike hennetjie...
...is toe 'n spoggerige haan. Foto's: Christiaan de Swardt
Vorige artikel: Lelik word toe mooi
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'