RIVERSDAL NUUS - Die Thusongsentrum op die dorp is op 17 September as die tweede beste Thusong-mobiele uitreikprogram in die land vereer.
Die toekenning is tydens die nasionale toekenningseremonie vir Thusongsentrums by Grand West Casino in Kaapstad oorhandig.
Die doel van die seremonie was om die dienssentrumprogram as 'n eenstop-sentrum vir toegang deur die gemeenskap te bevorder en die 20-jarige bestaan van die program te vier.
Dit is aangebied om die geïntegreerde mobiele uitreikprogram te bevorder en bekend te stel as 'n ander manier waarop dié program regeringsdienste in verafgeleë gebiede lewer.
"Dit is veral aangebied om uitnemendheid te beloon en die goeie werk wat bestuurders en koördineerders van die dienssentrum verrig, te vereer," het Marina Griesel, direkteur van korporatiewe bestuur, gesê. "Die Riversdal Thusong-sentrum was een van die finaliste vir hul mobiele program wat in Hessequa aangebied word. Die span kan voorwaar trots wees op hierdie prestasie."
Die seremonie is bygewoon deur Anton Bredell, minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning en Sindiswe Chikunga, adjunkminister van publieke dienste en administrasie.
Van links: Raymond Heunis, bestuurder van Riversdal se Thusong-sentrum, ontvang die toekenning van burgemeester Grant Riddles, tweede van regs, terwyl munisipale bestuurder Johan Jacobs en Chris Onrust, direkteur van gemeenskapsdienste toekyk.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'