STILBAAI NUUS - Rafiek Mhatey (67), een van die eerste huiseienaars in die Preekstoel-woonbuurt in Stilbaai, is Donderdag 29 Augustus oorlede terwyl hy en sy vrou Elima by die strandhuis was.
Die geoktrooieerde rekenmeester van Parow-Noord het ook ’n selfsorg-gastehuis in Riversdal seder 1986 bedryf.
Die destydse Stilbaai-munisipaliteit het in Oktober 1994 altesaam 24 erwe in die woonbuurt op ’n openbare veiling verkoop. Die egpaar het in 1996 vir hulle hier ’n huis laat bou. Die huis is in 2009 vergroot en die familie het vreugdevolle tye hier deurgebring. Veral die jaarlike Oujaarsete aan huis van die egpaar was ’n instelling by die buurt se inwoners.
Hulle het Woensdagaand by die huis aangekom. Mhatey het net na middagete ’n massiewe hartaanval gehad. Hy is volgens die Moslemgeloof Vrydag 30 Augustus uit die Panorama-moskee in Kaapstad begrawe en in die Mowbray-begraafplaas te ruste gelê.
Hy word oorleef deur sy vrou, twee seuns Faizel en Imraan, dogter Fatima en kleinkind Mohammed Shaheer.
Hy sal onthou word as ’n stigterslid van die Parow Moslem Vereniging-trust en iemand wat sy hulpbronne vrylik gedeel het.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'