HESSEQUA NUUS - Ona was die jongste en langslewende van ses kinders.
Sy is gebore en het opgegroei op die plaas Salmonsvlei, aan die voet van die Drakensteinberge in die Paarl.
Op negejarige ouderdom het sy haar ma aan die dood afgestaan.
Ona was op laerskool in die geskiedkundige plaasskooltjie in Klein Drakenstein en het matrikuleer aan Paarl Hoër Meisieskool.
Sy was 'n baie goeie sportvrou, maar ook 'n vasberade vrou met ongelooflike deursettingsvermoë.
Niks was te veel nie en haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie.
Sy was fisies ook 'n sterk vrou.
Na skool het sy 'n maatskaplike werker geword en sy en haar vriendin, Hettie de Witt het saam 'n kinderhuis begin met geld wat sy geleen het.
Die kinderhuis, JP Hugo-kinderhuis het tydens 'n vloed weggespoel en hulle het alles verloor.
Hulle het hierna na Jongensfontein getrek.
Ona het as skriba by die NG Kerk op Stilbaai gewerk en ook die winkel op Jongensfontein bestuur.
Dié uitsonderlike en veelsydige vrou het gesweis, diefwerings gemaak, alles van visvang geweet, haar Nomad eiehandig herstel, die kinders trakteer op spookasem en die lekkerste pannekoek gebak.
Sy was 'n liefdevolle mens wat altyd gehelp het waar sy kon.
Ona se troosdiens vind Vrydag 2 Februarie vanuit die Jongensfontein-saaltjie om 10:00 plaas.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'