HEIDELBERG NUUS - Anna Matjan (82) van Heidelberg, meer bekend as Ant Ous, is Vrydag 29 Mei stil-stil aan huis oorlede.
Ant Ous, wat vyf jaar gelede haar sig verloor het, was volgens haar dogter, Joslyn Fisher, wat haar die afgelope paar jaar versorg het, Vrydag betreklik stiller as ander dae.
Fisher noem dat sy buite was en later weer by haar ma in die kamer gaan inloer het, maar besef dat haar ma nie soos gewoonlik slaap nie. Sy het na haar vriendin geroep wat by haar was, wat haar aangeraai het om die ambulans te bel. Ant Ous was egter reeds oorlede toe hulle opdaag. "Ous het baie mooi heengegaan. Ons kon dit op haar gesigsuitdrukking sien," het Fisher hartseer gesê.
Ant Ous was op haar dag 'n bobaasbakster wat jare lank diens by 'n bekende supermark in die dorp verrig het. Sy het ook graag haar dienste naweke vrywillig by verskeie familie- en kerkfunksies aangebied. Haar eggenoot, Danny, met wie sy 33 jaar getroud was, het haar vier jaar gelede ontval.
Buiten Fisher laat sy ook twee seuns, twee dogters, 16 kleinkinders en 23 agterkleinkinders agter.
Die begrafnisdiens vind Saterdag 6 Junie vanaf die huis in Mandelastraat en daarna vanuit die JF Neumann Memorial Congregational kerk plaas. Teen saktyd was die tye nie beskikbaar nie.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'