HESSEQUA NUUS - Die skielike heengaan van een van sy bekendste inwoners en Hessequa-wyksraadslid, Thomas Pretorius (51) het as 'n groot skok vir die gemeenskap gekom.
Pretorius, alombekend as Tom, het blykbaar op Sondag 10 Februarie aan 'n hartaanval beswyk nadat hy omstreeks 22:30 by 'n vulstasie in die dorp in die ruskamer inmekaar gesak het.
Volgens sy erg bedroefde vrou, Leonie, was hulle op pad om vir hom druiwe by die winkel te koop, aangesien hy vroeër aan haar gesê het dat hy daarvoor lus was.
"Toe ons by die vulstasie kom, het hy gekla van 'n pyn in sy nek en het hy na die ruskamer gegaan. Ek het gesien dat hy onvas op sy voete was en het agter hom aangegaan. By die ruskamer het hy inmekaar gesak en het ek om hulp geroep."
Die polisie het die ambulans ontbied omdat sy nie met hulle kontak kon maak nie. Hy is dadelik na Riversdal-hospitaal geneem, maar is op pad daarheen oorlede.
Pretorius was sedert Augustus 2016 die ANC-wyksraadslid van die Hessequa-munisipaliteit vir wyk 4 wat Witsand, Slangrivier, Vondeling, asook dele van Heidelberg insluit. Hy was aktief by menige instansies betrokke, waaronder die afgelope sewe jaar as voorsitter van Kairos Senior Sekondêr se beheerliggaam. Tydens sy termyn was hy instrumenteel met die aanskaffing van die skoolsaal. Hy was ook by die Kairos Ondersteuningsgroep (KOG) betrokke waar hy eers as voorsitter en sedert verlede jaar as ondervoorsitter die skool bedien het.
Pretorius was bekend as 'n mense-mens, wat daarna gestreef het om sy gemeenskap passievol as gemeenskapsaktivis te bedien. Hy was vir 'n lang tydperk voorsitter van Kindersorg SA Heidelberg en was instrumenteel om Theodore Jantjies en Maurice Paige as Kindersorg se ambassadeurs te betrek.
Hy was ook verteenwoordiger van Rural Education Access Programme (REAP) wat matrikulante met die aansoek en verkryging van studiebeurse ondersteun. Hy was baie bemind onder die matrikulante wat sy ondersteuning aan hulle baie hoog geag het. Hy was veral baie betrokke by die opheffing van die jeug.
Huldeblyke het van oral op sosiale media ingestroom.
Buiten sy vrou laat hy vier dogters, twee seuns, 'n kleinkind, sy pa, broer en suster na. Die begrafnisdiens vind Saterdag 16 Februarie vanaf die huis in Theo Adamsrylaan om 09:00 en daarna om 10:00 vanuit St. Barnabas Anglikaanse Kerk plaas. Die diens was voorafgegaan deur 'n gedenklesing Dinsdagaand by Slangrivier-gemeenskapsaal, 'n gedenkdiens in Hessequa-raadsaal, gedenkdiens Woensdagaand by die St. Barnabas kerk, asook 'n gedenklesing Donderdagaand in die Duivenhoks-gemeenskapsaal.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'