RIVERSDAL NUUS - 'n Geliefde en geëerde oudonderwyser, Mavis Cloete (83), is Saterdag 2 Februarie in haar huis oorlede.
Mavis Cloete (née Daries), is gebore uit die huwelik van Johannes Daries van Driefontein, distrik Albertinia en Johanna Human van Robertson.
Haar vader was die eerste bruin stasiemeester wat deur die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens by die Riversdal-spoorwegstasie aangestel is. Die spoorwegowerheid het nie besef hy is 'n bruin man toe hulle hom aanstel nie. Toe word hy as ploegbaas by Krombeksrivierstasie aangestel, maar met die voordele wat verbonde is aan die pos van 'n stasiemeester.
Mavis het haar junior sertifikaateksamen aan Gerrit du Plessis Sekondêre skool in 1952 voltooi. Sy het haarself in 1954 as junior onderwyser aan die destydse Sohnge Onderwyskollege op Worcester bekwaam. In 1955 is sy in haar eerste onderwyspos by Waterford op die walle van die Sondags-rivier in die distrik Jansenville by 'n tweemanskool aangestel. Die prinsipaal was Patrick van Pretoria. Die jong onderwyser het vele uitdagings in die afgesonderde plaasgemeenskap ervaar, soos beperkte hulpbronne en riviere wat weens swaar reën die pad en brug oorspoel. Haar tweede onderwysbetrekking vanaf April 1955 tot 1961 was onder prinsipaal Petrus Steenveld by St. Andrew's Skool.
In 1960 het sy in die huwelik getree met William Peter Charles Cloete van Genadendal, wat pas as houtwerkonderwyser by Gerrit du Plessis aangestel is. In 1965 het sy begin onderrig gee by die middagskool in die Martin Johnson-saal by St. Andrew's Engelse Kerk (EK). In 1968 het sy onderwys gegee by Melkhoutfontein EK-skool, in 1969 by Boontjieskloof EK-skool en vanaf 1970 tot 1972 by Soebattersvlakte-skool.
In 1973 het Harold Abrahams haar op sy personeel by Groot Zoutpan EK aangestel en in 1974 is sy in 'n permanente betrekking by Panorama Primêre skool aangestel, waar sy skoolgehou het tot sy in Maart 1997 medies ongeskik verklaar is.
Haar eggenoot, bekend as Billy, is in November 2002 oorlede. Sy word oorleef deur haar twee susters, 'n broer en ses kinders.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'