RIVERSDAL NUUS - Die vriendelike glimlag van die groot man by Solidariteit Helpende Hand op die dorp gaan voorwaar gemis word.
Fanie Olivier (66), voorsitter van die plaaslike tak is op 10 Oktober aan kanker oorlede.
Hy is sedert Julie 2014 by Helpende Hand betrokke en het 'n enorme bydrae as voorsitter gelewer.
Hy was ook nou betrokke by die stigting van die skenkingskantoor in Augustus van daardie jaar.
Olivier laat sy vrou Barbara, asook 'n dogter, seun en twee stiefseuns agter.
Volgens Adele Wright, kliëntediensbeampte van die Suid-Kaap gaan die streek hom baie mis.
"Fanie was so 'n integrale deel van ons span. Hy het die skenkingskantoor saam met sy vrou bestuur.
"Hulle het baie gou 'n sentrale deel van die gemeenskap geword.
"Deur hulle goeie werk is baie mense gehelp," sê Wright.
"Dit is ons hoop dat die gemeenskap sal voortgaan om die Solidariteit Helpende Hand skenkingskantoor te ondersteun soos wat hulle gedoen het terwyl Fanie hier was."
Vir meer inligting oor die skenkingswinkel, skakel vir Barbara Erasmus by 071 583 8099 of besoek die winkel in Kerkstraat.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'