Update
HESSEQUA NUUS - Na sy hartomleiding op die jong ouderdom van 54 jaar, het Piet Avenant se lewe ingrypend verander.
In daardie stadium het Piet vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë gewerk. Hy en sy eggenote, Matilda was in Parow, Kaapstad gevestig.
Moedeloos oor die pad vorentoe na hy ingelig is dat hy medies afgekeur vir verdere diens by die Spoorweë is, het sy vrou met 'n goeie voorstel vorendag gekom.
"Bok, daar is mos nog nie iemand wat ander mense se rose teen betaling snoei nie. Wat van so 'n moontlikheid?"
Dit was nie net die begin van Piet se fisiese herstel nie, maar ook die begin van 'n baie lang en mooi toekoms in die tuine van Kaapstad se noordelike voorstede. Sy dienste was gesog en het hom alombekend gemaak vir sy groen vingers, onblusbare energie en slag om tuine te laat gedy. Sy eie rose het skoue gehaal en sy fyntuin is ook as 'n ware Eden beskryf.
Selfs na Piet en Tilla se tydelike verblyf by sy oudste seun, Reinhard en sy vrou Heletta, het hy onverpoosd vir hulle 'n tuin tot stand gebring wat al die bure se monde laat oophang het.
Maar, helaas wag die kruipende monster van ouderdom vir niemand nie en met groot, diepe hartseer is demensie by Tilla gediagnoseer en het dit uiteindelik nodig geword vir die egpaar om hulle toevlug na 'n ouetehuis te neem.
Piet se tweede oudste seun, André woon op Riversdal en het hy hulle in 2018 gehelp om by Ou Meule-tehuis plek te kry.
Sommer binne die eerste week wen Piet almal se harte met sy skerp humorsin en sy groen vingers vind ook hulle pad na die tehuis se tuin.
Die noodlot slaan egter toe en 'n onbeskryflike hartseer tref Piet en sy familie toe Tilla, waarmee hy bykans 59 jaar getroud was, haar aardse stryd op 6 November 2019 gewonne gee.
Piet verhuis om die hoek na Huis Jan Lange, waar hy ook hier die tuin in 'n paradys omskep het.
Piet Avenant soos baie inwoners by die Droom-tehuise, Ou Meule en Jan Lange hom ken - altyd in die tuin aan die werskaf.
Vorige artikel: Tehuise se tuine blom weer
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'