Update
ALBERTINIA NUUS - Hoërskool Albertinia het op Vrydag 28 Julie hul heel eerste Teateraand in die skool se geskiedenis aangebied.
Daar was verskillende soorte opvoerings deur die skool se talentvolle akteurs en aktrises en die program is goed afgewissel met dramatiese en komiese opvoerings. Die spel van die dramagroep was puik en professioneel.
Die gehoor is baie keer in trane gelaat en hul maagspiere was ook lekker seer van die gelag.
Dit was ook die twee dramaleiers, Branville Saayman en Elzaan de Haast, albei matriekleerders, se laaste optrede by die skool.
Die skoolhoof, Dennis Karelse, het die twee matriekleerders geprys vir hul entoesiasme, bystand, leiding en die bevordering van die uitvoerende kunste by die skool.
Die Teateraand was nog altyd Branville se droom vir Hoërskool Albertinia en in sy laaste skooljaar het sy droom gerealiseer.
Branville Saayman en Elzaan de Haast in die verhoogproduksie, Seewaters.
Die trane het behoorlik geloop toe die dramagroep tydens die geleentheid finaal afskeid geneem het van Branville en Elzaan en hulle sterkte toegewens het met die matriekeindeksamen wat voorlê. Hoërskool Albertinia sal beslis die twee staatmakers mis.
Branville was die teksskrywer van meeste van die verhoogproduksies. Carmen Karelse, een van die skoolopvoeders, was die programdirekteur vir die geleentheid en het haar uitstekend van haar taak gekwyt.
Karelse het ook 'n baie spesiale woord van dank gehad vir nóg 'n opvoeder, Joanne de Waal, wat die koördineerder van die skool se kunsafdeling is.
Die Teateraand sal ook nou 'n gereelde instelling by Hoërskool Albertinia word.
Daar was groot dankbaarheid teenoor die bekendes in die vermaaklikheidsbedryf vir die promosie-video: Irvine van der Merwe, 'n akteur in die sepie Suidooster, en Lyntjie Jaars, bekende radio-omroeper en mediapersoonlikheid. En natuurlik ook vir die gemeenskap van Albertinia wat die aand goed ondersteun het.
Hoërskool Albertinia se dramagroep het beïndruk met hul professionele spel.
Akteurs en tegniese spanlede wat by die Teateraand in aksie was. Van links: Fatima Osman, Eyethu Goniwe, Bregitte Mango, Crushlan Kwezi, Bernicia David en Caitlin Matthee.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’