Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Eerwaarde June Dolley-Major, 'n priester van die Anglikaanse Kerk wat glo 'n slagoffer van seksuele aanranding deur 'n kollega ongeveer 18 jaar gelede was, is sedertdien 'n kampvegter vir die beskerming van vroue en kinders se regte om behoorlike erkenning te geniet.
Dolley-Major het besluit om daadwerklik 'n verskil te maak om dié doelwit te bereik. Volgens haar spook sy sedertdien dat die kerk daadwerklike aksies teen hierdie oortreders loods om die euwel uit te roei.
Sy het, na deeglike nabetraging besluit om die 902,8km staptog vanaf Kaapstad na Mkhanda (voorheen Grahamstad) aan te pak om bewusmaking aan te wakker, asook om geld te in om 'n sentrum vir slagoffers te open om hulle te ondersteun en te bemagtig om 'n nuwe uitkyk op die lewe te hê.
Mkhanda is waar die seksuele aanranding op haar tydens 'n kerk aangeleentheid plaasgevind het.
Die staptog is Maandag, 20 September deur Dolley-Major en haar stapmaat, Celesthea Pierang, Collette en Sherman Scott vanaf Sir Lowryspas aangepak. Sherman het onbetaalde verlof geneem om die trio met sy motor te vergesel om die nodige ondersteuning en beskerming te bied.
Die span het Woensdag, 29 September met vyf ander aktiviste Heidelberg aangedoen, waar hulle oornag en die volgende dag hul staptog hervat het. Die aktiviste, waaronder 'n mediese dokter, dr Genine Josias, 'n leraar, eerw Ursula van Stavel, Charlene Edem, Felicity Roland en Tremaine Barnes het by Riviersonderend aangesluit en hulle tot op Riversdal vergesel. Barnes wat op Kimberley woon, het ook 'n projek, "Barefoot Campaign" waardeur sy bewusmaking vir kinderregte dryf.
Kyk 'n video hieronder:
Ten spyte daarvan dat Dolley-Major 'n hooggeregshofgeding om haar te verbied om haar aanvaller te noem, gewen het, het sy Vrydag, 1 Oktober verneem dat die Anglikaanse Kerk tribunaal haar aanvaller onskuldig bevind het. Dit gaan haar egter nie verhoed om vir slagoffers die stryd vir geregtigheid voort te sit nie.
Enigiemand wat 'n bydrae tot Dolley-Major se stigting of hul staptog wil doen kan, kan hulle per km borg, vanaf een sent tot R5 per kilometer. Enige ander bedrag sal ook verwelkom word. Hulle beplan om die staptog binne 40 dae op 29 Oktober te voltooi.
Vir meer inligting kan Dolley-Major (061 495 3267) of Pierang (064 664 3278) gekontak word.
Die groep aktiviste staan langs die N2 buite Heidelberg voor hulle hul staptog na Riversdal hervat. Van links is dr Genine Josias, Celesthea Pierang, eerw Ursula van Stavel, Felicity Rol, Sherman Scott, eerw June Dolley-Major, Tremaine Barnes, Charlene Edem en Collette Lockett-Scott. Foto's: Clive Pretorius
Vorige artikel: Te voet van die Kaap na Mkhanda
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'