TUINROETE | HESSEQUA NUUS - Begrafnisondernemers sukkel om by te hou met al die Covid-19-sterfgevalle en Avbob, een van die land se grootste ondernemers, sê begrafnisse in sommige distrikte in die Oos-Kaap het met tot 300% toegeneem.
Op Mosselbaai is begrafnisondernemers sedert die mees onlangse vlaag van Covid-19, net so besig.
Chantel Moos, 'n werknemer van Mosselbaai Begrafnisdienste sê hulle het beslis baie besiger geraak sedert die uitbreking van die virus. Boonop sê sy behels dit 'n groot administratiewe proses.
"Ons werk met baie families wat geliefdes aan die dood weens die virus afstaan. Dit is baie hartseer."
Volgens Moos hoor familielede dikwels eers by die begrafnisonderneming dat hulle geliefdes weens Covid-19 dood is. "Dikwels het die hospitale nog nie die families ingelig nie en hoor hulle die nuus by ons."
Intussen kan die George-krematorium nie voorbly met verassings nie. Volgens Moos is daar 'n twee weke wagpriode, maar dit word verkort omdat die verassings nou ook saans gedoen word.
Sonika Weston van Riversdal Begrafnisdienste sê hulle kon beslis die toename in sterfgevalle sien.
"Veral oor die seisoentydperk. Ons het gelukkig vooruit gedink en genoeg voorraad kiste gehad. Sommige begrafnisondernemers was nie so gelukkig nie en moes kiste by ons aankoop, aangesien die vervaardigers tot Januarie gesluit was."
Volgens Weston moes hulle tydens die vakansie tot agt begrafnisse per dag hanteer. "Dit is baie vir die Hessequa-streek."
Sy sê egter daar is tans beslis 'n duidelike afname in sterftes.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'