STILBAAI NUUS - Een van die dorp se oudinwoners Japie van Schalkwyk, is Saterdagoggend 28 Oktober vroeg in sy slaap oorlede.
Hy is in 1930 op die plaas gebore en het sy hele lewe op die plaas Yzendyk gebly, waar hy en sy vrou, Phillie, later geboer het.
Hy het tot op die ouderdom van 84 jaar voltyds geboer.
Vir die laaste drie jaar van sy lewe is hy in Huis Stilbaai versorg.
Hy was bevoorreg om Stilbaai te sien ontwikkel van sy ossewajare tot vandag en kon die wonderlikste stories uit die verlede vertel.
Japie was 'n harde werker en 'n buitelug mens met merkwaardige kennis en respek vir die natuur rondom hom.
Hy sal altyd onthou word vir sy stories, geselsies en sy opregte belangstelling en omgee vir die mense rondom hom.
Sy vier kinders, hul eggenotes en al die kleinkinders sal hom baie mis, maar hulle sal die herinneringe en goeie voorbeeld wat hy nalaat vir altyd koester.
Hy is Vrydag 3 November vanuit die NG Kerk begrawe.