Update
SWELENDAM NUUS - Inwoners van Swellendam is erg ontsteld omdat 'n boer na bewering 'n man wreed met 'n krieketkolf en sambok aangerand het.
Die slagoffer, Everton Moos (33) van Railton was blykbaar saam met sy stiefseun, Ricklin Marais (19) te voet op pad om afvalperskes op 'n plaas te gaan haal, toe hulle op die R60, 'n openbare pad net buite die dorp deur die beskuldigde en vier van sy werkers in sy bakkie voorgekeer is.
Volgens Moos het die man, hy is nie seker of dit die eienaar of bestuurder van die plaas waarheen hulle onderweg was nie, hulle gevra wat hulle op "sy" pad soek.
Nog voor hulle kon verduidelik het die vier mans hom vasgevat, geslaan en op die bakkie gelaai. Marais het kans gekry om weg te hardloop en het die voorval vanuit die veld waar hy geskuil het dopgehou.
Moos noem verder dat hulle die res van die afstand, ongeveer 800m van die R60 waar hulle opgelaai was, na die boer se plaas gery het, waar hulle sy hande en voete vasgebind en hom langs die plaashuis oor 'n bakkie se kappie laat lê het. "Hulle het 'n swart sak oor my kop gesit en my broek afgetrek, waarna die boer my herhaaldelik met 'n krieketkolf en sambok oor my stêre geslaan het."
"Ek het na die negende hou my bewussyn ietwat verloor en weer bygekom toe ek net hoor hulle tel 39 en het weer daarna soort van bewusteloos geraak. Ek weet nie presies hoeveel houe ek na dit gekry het nie."
Hy noem dat die werkers hom na die pad gesleep en gelos het om sy pad huis toe te vind. Hy het kruip-kruip in sy onderbroek teen 'n slakkepas probeer om by die huis uit te kom. "Ricklin het my langs die pad ingewag en my tot by die huis gehelp."
Julian Matthyssen, plaaslike raadslid, het hiervan te hore gekom en die familie te hulp gesnel.
Volgens Matthyssen was hy hewig ontsteld toe hy verneem dat die hospitaalpersoneel geweier het om Moos te help omdat sy beserings kwansuis nie ernstig was nie.
"Hoe kon hulle weier om hom te help deur nie eers die J88 in te vul nie?" het hy gevra.
Matthyssen het die voorval na Rachel Windvogel, ANC LPP en skaduminister van gesondheid verwys, wat net so omgekrap is oor die aanranding, asook die hospitaal se weiering om Moos te help.
Moos is toe wel later by die plaaslike kliniek gehelp waar hulle die J88, die vorm wat deur die dokter of mediese beampte voltooi moet word met 'n pasiënt se beserings of simptome, ingevul het.
Roche Butler, die departement gesondheid, Overberg se woordvoerder het egter op Suid-Kaap Forum se navraag gesê dat die pasiënt wat met die beskrywing ooreenstem, wel in die hospitaal gesien is vir behandeling en met medikasie ontslaan is.
"Die pasiënt is na die naaste primêre gesondheidsinstansieverwys vir 'n opvolgafspraak."
Volgens sers Chris Spies, Suid-Kaapse polisiekommunikasiebeampte is 'n 40-jarige man Maandagoggend, 25 Januarie in hegtenis geneem op aanklagte van ontvoering en aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Die beskuldigde het Dinsdag, 26 Januarie in die plaaslike landdroshof verskyn. Die saak teen hom is tot 22 Februarie uitgestel. Hy is R2 000 borgtog toegestaan.
Vorige artikel: Swellendam-inwoner met sambok aangerand
'Ons bring jou die nuutste Swellendam, Hessequa nuus'